Grootste regstellendeaksiesaak nog

Die vakbond Solidariteit het vyf nuwe sake teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se rasplan na die arbeidshof verwys.

Die nuwe sake gaan moontlik by die vyf bestaande sake gevoeg word, wat dit die grootste regstellendeaksiesaak nog in Suid-Afrika sal maak. Die voorverhoor vir die eerste vyf sake is intussen vandag in die arbeidshof in Kaapstad afgehandel.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshofafdeling, sê die vakbond en die DKD sal die regterpresident aanstaande jaar nader vir ’n vervroegde hofdatum vir die eerste vyf sake. “Dit wil egter voorkom of ons die vyf nuwe sake by die bestaande sake gaan voeg. Ons wil ons hofaksie teen die DKD verskerp. Daar is honderde mense wat deur die DKD se regstellendeaksieplan onbillik benadeel word,” het Groenewald gesê.

In Augustus vanjaar het die arbeidshof in Kaapstad ’n dringende interdik teen die DKD se omstrede regstellendeaksieplan toegestaan. Volgens die interdik mag die DKD nie voortgaan om die pos waarvoor Christopher February, ʼn lid van Solidariteit, aansoek gedoen het, te vul voordat die hoofsaak aangehoor is nie.

“Al Solidariteit se sake teen die DKD fokus op die departement se omstrede regstellendeaksieplan. Volgens die plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word, ongeag die profiel van die provinsie of streek. Bruin mense maak sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking van die Wes-Kaap uit en in talle spesifieke streke maak hulle nog ’n groter gedeelte van die bevolking uit, terwyl hulle op nasionale vlak slegs sowat 8,8% van die totale bevolking uitmaak. Dit beteken dat hoewel 51% van die ekonomies aktiewe mense in die Wes-Kaap bruin is, die DKD wil hê dat slegs 8,8% van sy personeelkorps in dié provinsie bruin moet wees. Gevolglik is daar baie min of geen bevorderingsgeleenthede vir bruin mense in die Wes-Kaapse korrektiewe dienste, nie.”

“Die DKD se plan is niks anders as ’n reuseprogram van sosiale manipulasie nie. Volgens die plan moet mense trek om regte te kry waarop hulle geregtig is. Suid-Afrikaners moet die volle beskerming van alle wetgewing ontvang en die vryheid hê om hulle beroepe sonder beperkings te beoefen waar hulle ook al bly,” het Groenewald bygevoeg.

In die vyf nuwe sake tree Solidariteit namens Derick Wher, Jan Kotze, Desiree Merkeur, Deidre Jordaan en Teresa Abrahams op. Solidariteit tree ook reeds namens Geo-nita Baartman, Linda-Jean Fortuin, André Jonkers, Christopher February en Pieter Davids op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.