“Gun Opod tyd om Phiyega te ondersoek”

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) moet die geleentheid gebied word om bewerings teen Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, te ondersoek, het Nathi Mthethwa, minister van die polisie, Woensdag gesê.

“Toe die ministerie van polisie destyds besluit het om die fokus en mandaat van die Onafhanklike Klagtedirektoraat te verander na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, het ons gepoog om ʼn sisteem in plek te stel om seker te maak dat die wet, selfs deur die polisie, onderhou sal word,” het Mthethwa se kantoor in ʼn verklaring gesê.

Sodra Opod sy ondersoek afgehandel het, sal ʼn verslag aan Mthethwa gestuur word vir voorstelle.

Phiyega word daarvan beskuldig dat sy lt.gen. Arno Lamoer, polisiekommissaris van die Wes-Kaap, in kennis gestel het van ʼn ondersoek teen hom. Volgens die berigte het Phiyega op drie verskillende geleenthede vir Lamoer gesê sy is bewus van ʼn ondersoek teen hom.

Die Sunday Independent het berig dat hul telefoongesprekke wettig deur misdaadintelligensie-agente opgeneem is. Hulle het glo Lamoer se oproepe gemonitor. Lamoer was glo verbind aan ʼn dwelmhandelaar en bekende sakeman in Kaapstad.

Phiyega het Lamoer glo in die gesprekke bewus gemaak van soortgelyke aantygings deur Anwa Dramat, hoof van die Valke.

Volgens die verslag was die misdaadintelligensie-agente ontstoke oor die openbaarmaking en hulle het gedreig om kriminele klagtes teen Phiyega te lê.

Phiyega ontken dat sy Lamoer in kennis gestel het van die ondersoek.

Lt.gen. Solomon Makgale, Phiyega se woordvoerder, het Dinsdag gesê die kommissaris verwelkom die ondersoek. “Die nasionale kommissaris hou vol dat sy geen misdaad gepleeg het nie,” het Makgale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.