Gupta-familie kan dalk ondersoek word

Die bruidspaar, Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia by die Valley of Waves, Sun City Foto: Haranath Ghosh, Twitter

‘n Ondersoek oor die beweerde onwettige landing van ‘n privaatvliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis kan moontlik daartoe lei dat die rol van die Gupta-familie in die sage ook ondersoek word.

“’n Komitee van direkteurs-generaal moet binne sewe werksdae ‘n ondersoek afhandel en terugvoer aan die Kabinet gee hoe die straler toegelaat is om onwettig by die lugmagbasis in Pretoria te kan land,” het Jeff Radebe, minister van justisie, Vrydag gesê. “Ons het streng opdrag aan die komitee gegee. Indien iemand buite die regering impliseer word, moet die proses sy gang gaan, wie hulle ook al is.”

Die straler, wat gehuur is deur die welgestelde Gupta-familie, wat noue bande met politici het, het Dinsdag by die lugmagbasis geland. Gaste wat na die huwelik van Vega Gupta (23) en Aaskash Jahajgarhia by Sun City in Noordwes genooi is, het met die vliegtuig geland. Die Guptas besit die New Age-koerant en Sahara Computers.

Die straler is Donderdagmiddag van die basis na nabygeleë kommersiële internasionale lughawe, OR Tambo, geskuif.

“Vyf diplomate, insluitend Indiese regeringsministers was ook aan boord,” het Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge, gesê. Haar senior beamptes sou Vrydag met die Indiese Hoë Kommissaris, Virendra Gupta, oor die “diplomatieke voorval” vergader. “Ons moet binne sewe dae bepaal of daar ‘n breuk in die diplomatieke protokolproses plaasgevind het. Ons sal van diplomatieke kanale gebruik maak om ons misnoë met die Indiese regering uit te spreek,” het Nkoana-Mashabane, gesê.

Dit is ‘n sensitiewe saak, aangesien Suid-Afrika gesonde diplomatieke verhoudinge met Indië het.

Geen uitvoerende goedkeuring is vir die landing toegestaan nie, wat daartoe gelei het dat die regering dit ‘n breuk in sekuriteit genoem het. Dit het ook aan die lig gekom dat geen landingsfooie of tariewe betaal is nie, aangesien die Jet Airways-vliegtuig by ‘n lugmagbasis, in plaas van ‘n kommersiële lughawe, geland het.

Passasiers was ook nie aan ‘n doeane-ondersoek by die basis onderwerp nie. Oupa Magashula, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het gesê doeane-beamptes is gevolglik na Sun City gestuur, waar die gaste tuisgaan, om doeane-vorms uit te deel. “Dit is egter onmoontlik vir die SAID om al die bagasie te deursoek en te bepaal watter items in die land in gebring is.”

“Diegene wat vir dié sekuriteitsbreuk verantwoordelik is, sal gestraf word,” het Radebe bygevoeg.

Verskeie persone is Vrydag reeds geskors of in hegtenis geneem. Ambassadeur Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol; brig.gen. L. Lombard, bevelvoerder van die lugmag; brig.gen. TS Madumane, bevelvoerder van die lugmagbasis; lt.kol. C. Anderson, lugverkeerbeampte; en maj.gen. Phumza Gela, van die SAPD se operasionele reaksiediens in Gauteng is geskors.

Twee metropolisiebeamptes en ‘n reservis, wat vir ‘n sekuriteitsmaatskappy werk wat begeleiding van die basis na Sun City verskaf het, is in hegtenis geneem. Radebe sê die privaatsekuriteitsmaatskappy, wat begeleiding verskaf het, het onwettig blou ligte aan voertuie met vals nommerplate aangebring. “Die gebruik van ‘n gemerkte SAPD-voertuig word ondersoek.”

Die regering het glo geen rekord van die Indiese Hoë Kommissie waarin hulle die departement van internasionale betrekkinge in kennis stel oor die besoekgeselskap of dat hulle diplomatieke bystand, vliegtuigklaring of landingsregte versoek nie. “Die verdedigingsattaché van die Indiese Hoë Kommissie het ‘n versoek vir vliegtuigklaring op 4 April direk aan die lugmag se bevelseenheid binne die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gestuur,” het Radebe gesê. “Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) het met die Kantoor van Buitelandse Protokol konsulteer en die klaringsertifikaat uitgereik sonder om die hoof van die SANW in kennis te stel.”

Radebe het verder bekendgemaak dat die Jet Airways Airbus A330 nie ‘n buitelandse operateurspermit het nie. Die Burgerlike Lugvaartowerheid het die operateur van die A330 met R80 000 hiervoor beboet.

Pres. Jacob Zuma en verskeie ministers is na die troue genooi, maar sommige het nie die seremonie bygewoon nie. Zuma kon glo nie die seremonie bywoon nie, weens geskeduleerde afsprake in die buiteland. Ander ministers het gekies om nie die seremonie by te woon nie.

Mapisa-Nqakula het glo ‘n tyd voor die ongemagtigde landing reeds ‘n versoek, dat die vliegtuig by Waterkloof mag land, afgekeur.

Lees ook:
Gupta-fiasko: Nog vier hoës geskors
Gupta: “SA moet dankbaar wees”
Guptas wil glo net wit werkers hê
Gupta-vliegtuig geskuif
Nuuskommentaar: Hulle lieg so lekker want hulle vlieg so lekker
Hoë geskors oor Gupta-fiasko
Doeanebeamptes glo nie by Gupta-landing
Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek
Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming
Gupta-gaste mag by Waterkloof LMB land
Guptas reël “bruilof van die eeu”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Dis nou maar een ding wat die regering van ons land kan goed doen. Hulle maak droog dan probeer hulle die skuld op iets of iemand anders plaas. Laat my so dink daaraan toe ons jonk was en droog gemaak het en jy word uitgevang. Dan is dit nooit jy nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.