Gupta-sage: Familie vra om verskoning, verwelkom ondersoek

Atul Gupta

Die Gupta-familie het om verskoning gevra vir die voorvalle wat gepaardgegaan het met die spogtroue van Vega Gupta en haar man Aaskash Jahajgarhia.

Die familie het ook die regering se in-diepte ondersoek na die landing van hul private huurvliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis en die beweerde gebruik van veiligheidsvoertuie met blou ligte, sirenes en vals nommerplate verwelkom. Hulle sê in ʼn verklaring hulle onderneem om hul volle samewerking in die ondersoek te gee.

“In die lig van alles wat gebeur het, wil die familie ʼn algemene verskoning uitreik aan almal wat hierdeur geraak is, insluitend die Suid-Afrikaanse en Indiese regering, plaaslike owerhede, die Suid-Afrikaanse publiek, en veral ons gaste,” het die sakeman, Atul Gupta, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Gupta wou sy familie “net ʼn onvergeetlike troue vir ons dogter, op Suid-Afrikaanse bodem gehou het”.

“Ons betreur beweerde voorvalle by Sun City waarvan die familie onbewus was. Die beweringe dat daar rassisties teen die personeel opgetree is, is beslis onwaar. As daar ʼn geïsoleerde voorval was, wat een van ons gaste behels het, vra ons onvoorwaardelik om verskoning,” het Gupta bygevoeg.

Die familie se private huurvliegtuig, met bykans 200 gaste van Indië aan boord, het Dinsdagoggend glo sonder die nodige magtiging op die Waterkloof-lugmagbasis geland. Verskeie staatsdepartemente het reeds met ondersoeke na die kwessie begin. Vyf staatsamptenare is reeds geskors weens hulle aandeel aan die skandaal.

Gary Naidoo, die gesin se woordvoerder het Saterdag in ʼn verklaring gesê die Gupta-familie onderneem om hul volle samewerking in die ondersoek te gee.

“Ons het en sal aanhou om saam met die ondersoekbeamptes te werk sodat die volle feite aan die lig kan kom,” het Naidoo gesê. “Ons bly by ons standpunt dat ons goedkeuring gehad het om die vliegtuig te land en sal weer kommentaar lewer as die ondersoek afgehandel is.” Die familie het vroeër die week gesê hulle was nie direk by die reëlings van die landing betrokke nie, maar is deur die Indiese Hoë Kommissie verseker dat alle rëelings in plek was.

Intussen is die Guptas se nagenoeg 200 gaste wat die troue bygewoon vir sowat ses ure op die OR Tambo-lughawe vertraag toe hulle Vrydag teruggekeer het Indië toe.

Ronnie Mamoepa, die woordvoerder van binnelandse sake, het gesê sy departement was verantwoordelik vir die oponthoud.

“Kragtens die regering se toewyding om seker te maak dat alle immigrasiewette toegepas word, het ons by die vertrekpunt 207 passasiers en 12 bemanningslede se inligting en dokumentasie verwerk. Hiermee is verseker dat die inligting ooreenstem met die inligting wat verkry is met die landing by die Waterkloof-lugmagbasis,” het Mamoepa gesê.

Lees ook:
Guptas-troue: Hotelgroep ontken “rassisme”
Zuma verwelkom Gupta-ondersoek
Gupta-familie kan dalk ondersoek word
Gupta-fiasko: Nog vier hoës geskors
Gupta: “SA moet dankbaar wees”
Guptas wil glo net wit werkers hê
Gupta-vliegtuig geskuif
Nuuskommentaar: Hulle lieg so lekker want hulle vlieg so lekker
Hoë geskors oor Gupta-fiasko
Doeanebeamptes glo nie by Gupta-landing
Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek
Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming
Gupta-gaste mag by Waterkloof LMB land
Guptas reël “bruilof van die eeu”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.