Gupta-saga: “Vliegtuig het nie toestemming gehad” – minister

Foto: www.planespotters.net

Jeff Radebe, minister van justisie, het Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê die landing van die Gupta-familie se vliegtuig by die Waterkloof-lugmagbasis was glo ongemagtig.

Radebe het gesê die landing is nie deur die betrokke owerhede goedgekeur nie.

Radebe sê ʼn voorlopige ondersoek is gedoen wat daarop dui, maar dat ʼn volledige hoëvlak-ondersoek deur die direkteurs-generaal van die betrokke departemente aan die gang is. Die direkteurs-generaal moet binne die volgende sewe dae terugvoer gee.

Die Gupta-familie se gehuurde vliegtuig is Donderdag van die Waterkloof-lugmagbasis verwyder. Vyf mense is reeds in verband met die voorval geskors, en Radebe het aangekondig dat nog koppe mag rol.

Radebe beweer ook die polisie-begeleiding wat die familie van die lugmagbasis tot by Sun City ontvang het, is nie deur die polisie gedoen nie.

Hy sê ʼn private veiligheidsmaatskappy het glo onwettig blou ligte op voertuie met vervalsde nommerplate gebruik.

“Polisie en metropolisiebeamptes is reeds in dié verband in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Die burgerlike lugvaartowerheid gaan ook Jet Airways, die operateur van die Airbus A330, beboet, omdat hulle glo burgerlugvaartregulasies oortree het.

“Ons wil die Suid-Afrikaanse publiek verseker dat ons almal alles in ons vermoë sal doen om veiligheidsmaatreëls te versterk en seker maak dit word nagekom,” het hy bygevoeg.

Lees ook:
Gupta-fiasko: Nog vier hoës geskors
Gupta: “SA moet dankbaar wees”
Guptas wil glo net wit werkers hê
Gupta-vliegtuig geskuif
Nuuskommentaar: Hulle lieg so lekker want hulle vlieg so lekker
Hoë geskors oor Gupta-fiasko
Doeanebeamptes glo nie by Gupta-landing
Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek
Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming
Gupta-gaste mag by Waterkloof LMB land
Guptas reël “bruilof van die eeu”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

endika ·

En ek sê tra- la -la -la -la…….. die soetkoekie kan my maar verbygaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.