Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming

Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: freenewspos.com

Die weermag is glo nie bewus van enige toestemming wat aan die Gupta-familie verleen is om van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria gebruik te maak nie.

“So ver ek weet, is geen toestemming aan ʼn privaat burger verleen om die lugmagbasis te gebruik nie,” het Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gesê. “Dit is ʼn militêre basis en ʼn nasionale sleutelpunt wat deur die regering en sy gaste gebruik word.”

Maroela Media het vroeër berig die Gupta-familie het beaam dat owerhede toestemming verleen het dat hulle van dié lugmagbasis gebruik mag maak vir gaste wat die familie-troue wil bywoon.

Vega Gupta (23) en Aaskash Jahajgarhia se troue vind tussen 1 en 4 Mei by Sun City in Noordwes plaas.

Die Gupta-familie, wat die New Age-koerant en Sahara Computers besit, het gesê Lanseria-lughawe is te klein om die vliegtuig, wat deur die familie gebruik word, te akkommodeer.

Haranath Ghosh, woordvoerder vir die familie, het gesê die Indiese Hoë Kommissie, en nie die familie nie, het die nodige toestemming ontvang. Klik hier om meer te lees.

Pogings om dit met die Indiese Hoë Kommissie in Pretoria te bevestig was onsuksesvol. “Die hoë kommissaris is die enigste persoon wat toestemming het om kommentaar te lewer,” het Armstrong Changsan, adjunk hoë kommissaris, gesê. “Hy is eers Maandag weer beskikbaar.”

Dlamini sê hy is nie bewus van die reëling nie. “Laat die Guptas vir julle sê waar hulle toestemming vandaan gekry het en dat hulle dit vir julle wys,” het hy gesê. “As die Gupta-familie sê die Kommissie het die toestemming ontvang, dan moet die Kommissie bewys lewer van dié toestemming en aandui wie die goedkeuring verleen het.”

Dlamini het nie ʼn antwoord gehad op ʼn vraag waarom privaatvliegtuie by die lugmagbasis mag land as hulle nie toestemming het nie. “Dit is blote spekulasie. Vra die Indiese Hoë Kommissie waar hul toestemming vandaan kom.”

Ghosh het gesê alle vervoerreëlings is deursigtig getref. “Natuurlik is die toepaslike protokol aangewend om buitelandse ministers, wat die plegtigheid wil bywoon, te ontvang en te vervoer.”

Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, het gesê Waterkloof-lugmagbasis is ʼn militêre fasiliteit en val nie onder sy departement nie. “Wie ook al aansoek gedoen het om van die basis gebruik te maak, het dit met die SANW gereël, en nie met die departement nie,” het Monyela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.