Gupta-vliegtuig geskuif

Foto: www.planespotters.net

Die vliegtuig waarmee gaste van die Gupta-familie by Waterkloof-lugmagbasis geland het, is Donderdag op bevel van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minster van verdediging, van die Waterkloof-lugmagbasis onder die vlugnommer JAI9002 geskuif.

“Die toestemming word herroep en die vliegtuig moet onmiddellik verwyder word,” het Mapisa-Nqakula in ʼn verklaring gesê. Die vliegtuig is na OR Tambo Internasionale Lughawe geskuif (volg die vlug regstreeks hier: http://www.flightradar24.com/JAI9002).

Die minister het reageer op ʼn voorlopige ondersoek om vas te stel hoe magtiging bekom is dat die Gupta-familie se huweliksgaste by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria kon land om ʼn troue by Sun City by te woon.

Sy het glo deur mediaberigte van die Gupta-fiasko te hore gekom terwyl sy in Ethiopië besoek afgelê het. Sy het Woensdag teruggekeer na Suid-Afrika en dadelik ʼn verklaring van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) aangevra.

Sy sê die departement van internasionale betrekkinge het toestemming aan die Indiese Hoë Kommissariaat gegee dat die Guptas se vliegtuig by die lugmagbasis mag land. “Die lugmag het bloot die versoek hanteer soos wat hulle enige ander departementele versoek sou hanteer,” het sy gesê.

Sy sê ʼn afgevaardigde van Sahara Computers, wat deur die Guptas besit word, het aanvanklik by die departement van verdediging aansoek gedoen dat die lugmagbasis gebruik mag word, maar die versoek is van die hand gewys. “Die ministerie van verdediging het hierna die saak na Airports Company SA verwys, en die versoek as afgehandel beskou.”

Sy het gesê daar is van diplomatieke kanale gebruik gemaak om die goedkeuring by die departement van internasionale betrekkinge te kry. “Die departement van verdediging en SANW sou nooit die versoek goedgekeur het nie,” het sy bygevoeg.

Die departement van internasionale betrekkinge het Donderdagoggend aangekondig dat hy ʼn senior amptenaar, ambassadeur Bruce Koloane, geskors het na afloop van die voorlopige ondersoek.

Lees ook:
Nuuskommentaar: Hulle lieg so lekker want hulle vlieg so lekker
Hoë geskors oor Gupta-fiasko
Doeanebeamptes glo nie by Gupta-landing
Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek
Gupta-troue: SANW glo onbewus van Waterkloof LMB-toestemming
Gupta-gaste mag by Waterkloof LMB land
Guptas reël “bruilof van die eeu”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.