Guptas dagvaar Sunday Times vir naamskending

Atul Gupta

Sakeman Atul Gupta het glo ‘n eis van R500 000 teen die Sunday Times vir naamskending by die hof ingedien.

Bizcommunity berig dat die hofsaak in reaksie is op ‘n berig wat die artikel op 17 Maart gepubliseer het getiteld “Guptas probeer SAL-baas ‘koop’”. Atul Gupta is die besturende direkteur van Sahara Holdings en uitvoerende voorsitter van TNA Holdings, eienaars van die New Age-koerant.

Volgens ‘n dagvaardiging wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, glo die Gupta-familie dat die Sunday Times-artikel “foutief en lasterend” is. Die familie ontken dat hulle “sluwe handelaars” is, “korrup” is en dat hulle ‘n beampte van die Suid-Afrikaanse Lugdiens probeer omkoop het. Die Sunday Times het berig dat die Guptas probeer het om op twee verskillende geleenthede ‘n senior beampte van SAL om te koop, eers met R100 000 en toe met R500 000.

Die familie ontken dat “die familie bekend is daarvoor dat hulle soveel mag het dat hulle kabinetministers en senior regeringsamptenare na hul huis kan ontbied om na bewering verdere onwettige en onvanpaste saketransaksies uit te voer”.

Gupta en Gary Naidoo, woordvoerder van TNA, was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. Kommentaar van die Sunday Times kon ook nie dadelik bekom word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.