Gupta’s reël ‘bruilof van die eeu’

Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia Foto: freenewspos.com

Die Gupta-familie, eienaars van die New Age-koerant en Sahara Computers, beplan glo die “bruilof van die eeu”.

Volgens die Saturday Star gaan Vega Gupta (23), susterskind van die drie welgestelde broers, tussen 1 – 4 Mei met haar Indies-gebore verloofde, Aaskash Jahajgarhia, die knoop deurhaak by Sun City se Lost City-hotel.

“Dit is die eerste troue van een van ons kinders en ons wil hê alles moet perfek wees,” het Atul Gupta aan die koerant gesê. Die hotel en verskeie van Sun City se dienste gaan glo vir toeriste gesluit wees om die meer as 400 gaste, wat na verwagting die multi-miljoenrandse bruilof sal bywoon, te bedien. “Ek sê dit is die bruilof van die eeu, nie oor die geld wat spandeer gaan word nie, maar eerder die kultuur wat omhels word,” het Atul gesê.

Vega is die broers, Atay, Atul en Rajesh Gupta, se enigste suster, Achla Gupta, se kind. Sy kon glo enige plek kies, maar het op Suid-Afrika besluit. “Ons het Mauritius, Italië, Spanje en talle ander lande voorgestel, maar sy het spesifiek versoek om hier te trou, omdat sy baie lief is vir die land,” het Atul bygevoeg. Atul sê nog ‘n bruilof word beplan in hul tuisdorp Saharapur in Indië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

‘n Groot deel van die rykdom van die omstrede Gupta’s, verkry deur hul New Age-koerant, is afkomstig van die ANC-regering wie uitermate gebruik maak van die koerant vir tender- en ander staatsadvertensies – dus grootliks belastingbetalers-gelde wat aangewend word vir die duur troue. En die gaste sal dus ook hoofsaaklik ANC-hoëlui wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.