Haai-aanval: “Dit was afgryslik”

David Lilienfeld. Foto: Facebook

Die 20-jarige David Lilienfeld, wat Donderdag dood is nadat hy deur ʼn grootwithaai aangeval is naby Kogelbaai, was ʼn belowende lyfplankryer wat Suid-Afrika internasionaal in die sport verteenwoordig het.

Lilienfeld is Donderdagmiddag omstreeks 12:30 deur ʼn witdoodshaai by Dappat se Gat, ʼn gewilde branderplank- en lyfplankry bestemming, naby Kogelbaai aan die Valsbaaikus aangeval. ʼn Woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Craig Lambinon, sê met hulle aankoms op die toneel was Lilienfeld klaar uit die water getrek en het sy liggaam op rotse op die strand gelê. Lambinon sê Lilienfeld se regterbeen is onder die heup afgeruk. Daar was geen ander bytmerke of wonde aan sy liggaam nie.

Lilienfeld was glo saam met sy broer, Gustav, en twee ander vriende in die water toe hy deur die haai aangeval is. Die bekende branderplankryer, Matt Marais, het die voorval aanskou en die haai as “massief en aggressief” beskryf. “Dit was afgryslik. Dit was veronderstel om ʼn lekker dag op die strand te wees maar het enige branderplankryer se grootste nagmerrie geword en dit het in minute, reg voor my oë gebeur. Ek het net uit die water geklim toe ek die vin sien. Die haai het hom drie keer aangeval. Die eerste keer het hy teruggeveg en sy lyfplank tussen hom en die haai gedruk. Die tweede keer het die haai hom onder die water getrek. Die derde keer was dit asof iemand ʼn knoppie gedruk het en die see net rooi geword het.” Marais sê die haai het na die aanval vir lank in die vlakwater rondgeswem.

Daar was vandag opnuut groot ongelukkigheid oor ʼn Amerikaanse haaikenner wat haaie vang en met elektroniese opspoorders merk. Chris Fischer het verlede week uit Kaapstad vertrek om haaie in Valsbaai te gaan vang en merk. Hy het ’n permit verkry om navorsing te doen oor haaie. Daar was veral kommer oor die aantal haai-lokaas wat vir 20 dae se navorsing in Valsbaai toegelaat is. Fischer word glo toegelaat om vyf ton haai-lokaas te gebruik. Daar was kommer dat die lokaas tot gevolg sou hê dat haaie na die gebied gelok sou word waar mense swem. Die projek is  vir die opname van ‘n dokumentêre program. Die departement van omgewingsake het intussen die projek gestaak na vandag se aanval. Mense het op sosiale netwerke hul woede en frustrasie te kenne gegee en die opname van die dokumentêr die skuld gegee vir die aanval.

Die foto is kort na die aanval geneem. In die foto kan daar gesien word hoe 'n haai in die vlakwater rondswem. Foto: @Sven110975

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.