Haai byt Struisbaai-hengelaar

Skeurtandhaai (Argieffoto)

Kobus Koeberg is Saterdagoggend in vlak water by De Mond, buite Struisbaai, deur ‘n haai gebyt.

“Koeberg het aan ‘n merk-en-vrylaat-hengelaarskompetisie deelgeneem toe hy gebyt is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê. “Hy het ‘n 1.5m-lange skeurtandhaai gevang en was besig om dit te meet en die haai weer in die vlak water vry te laat toe ‘n golf hom omgeslaan en die haai hom gebyt het.”

“Die 30-jarige Koeberg van Hermanus het bytmerke aan sy linkerbeen, kuit en enkel opgedoen. Hy was egter by sy volle bewussyn en in ‘n goeie luim,” het Lambinon bygevoeg. Koeberg is met ‘n helikopter na Bredasdorp geneem. “Die pasiënt is later met ‘n ambulans na ‘n privaathospitaal in Hermanus geneem waar hy ‘n operasie moet ondergaan om die beseerde ligamente te herstel.”

“Die haai is ongedeerd vrygelaat,” het Lambinon gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.