Habana breek drieë-droogte en rekord, Bokke vermorsel Namibië

Die vleuel, Bryan Habana, het nie net sy drieë-droogte gebreek tydens die Springbokke se Groep D-wedstryd teen Namibië nie, maar ook die rekord vir die meeste drieë vir Suid-Afrika.

Die Bokke het Namibië met 87-0 laat les opsê in Donderdag se wedstryd in Auckland in Nieu-Seeland. Habana het met sy drie in die eerste helfte, Joost van der Westhuizen se rekord vir 38 drieë in 89 toetse oorskry. Hy het sy 39ste drie aangeteken in 72 wedstryde. Habana het in die laaste 11 toetse nie ʼn drie aangeteken nie nadat hy die laaste keer in Junie 2010 oor die doellyn geduik het teen Italië. Morné Steyn het kort na die begin van die wedstryd ʼn strafskop deur die pale gejaag. Gio Aplon het kort hierna oor die doellyn geduik om die Bokke met 10-0 te laat voorloop. Habana se rekord-drie in die 23ste minuut van die wedstryd het die Bokke met 17-0 laat voorloop. Suid-Afrika het teen halftyd met 31-0 voorgeloop. Morné Steyn het kort na rustyd twee keer oor die doellyn geduik om die telling na 45-0 op te stoot. Steyn het ook sodoende die Springbok rekord vir die meeste doelskoppe in ʼn wêreldbekerwedstryd geëwenaar. Hy hou die rekord saam met Jannie de Beer (1999) en Percy Montgomery (2007). Juan de Jongh, Gia Aplon en Francois Hougaard het kort hierna drieë aangeteken. De Jongh het sy tweede drie in die 71ste minuut aangeteken. Danie Rossouw het in die 78ste minuut die Bokke se 11de drie aangeteken. Hougaard het die wedstryd afgesluittoe hy vir die tweede keer oor die doellyn geduik het. Die Springbokke het ook sy rekord geëwenaar deur 12 drieë aan te teken in ʼn wêreldbekerwedstryd. Die Bokke het in 2003 ook 12 drieë aangeteken teen Uruguay.

Die Springbokke het Namibië in die 2007 met 105-13 vermorsel op hul pad om die wêreldbeker te wen. Namibië het tot dusver egter heelwat beter gevaar in vanjaar se wêreldbeker nadat hulle 49-25 teen Fidji vasgeval het en met 49-12 die knie moes buig teen Samoa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.