Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag gesê die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) erken die handboek-fiasko was ‘n “geweldige mislukking” van die regering.
“Die NUK beskou die feit dat handboeke nie in Limpopo afgelaai is nie as “skokkend” en “onaanvaarbaar” en glo dat stappe gedoen moet word teen die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, en dat dié persoon moontlik vervolg moet word,” het Mantashe aan die media in Johannesburg gesê. “Die NUK erken dat dit ‘n geweldige mislukking van die regering se kant af is en spesifiek die departement van onderwys op ‘n nasionale en provinsiale vlak,” het hy gesê. Volgens Mantashe het die NUK die handboek-sage verlede week tydens sy Lekgotla bespreek. “Alle taakspanne wat die voorval ondersoek moet hul verslae by ‘n presidensiële taakspan indien. Die finale verslag sal as basis dien vir enige stappe wat gedoen word, insluitend stappe wat gedoen sal word teen enige skuldige persoon.”
Volgens Mantashe het die Lekgotla ook besluit dat een Afrika-taal verpligtend in skole moet wees, gebaseer op die streek.
Die Lekgotla het ook die moontlikheid ondersoek of die fokus om tenders as aanskaffingsmetode te gebruik, verminder moet word, aangesien dit uiteindelik tot korrupsie kan lei,” het Mantashe bygevoeg.