ʼn Groep van drie tieners is gefnuik in hul poging om ʼn motor te kaap toe hulle uitvind nie een van hulle kan ʼn voertuig met ʼn handrat bestuur nie.
Die drie mans, in hul laat tienerjare of vroeë 20s, het ʼn Chinese afleweringsman Dinsdag omstreeks 22:15 in Springfield, Massachusetts, oorval. Hulle het die kos gegryp, die sleutels geëis en in die motor gespring. Maar die handrat het hulle gefnuik.
“Een kind het ingespring en gesê hy kan dit nie bestuur nie, en die tweede een het dieselfde gesê en die derde een het ook nie geweet nie,” het sers. John Delaney, woordvoerder van die polisie, aan die Daily News gesê. “Hulle het uitgespring en met die kos weggehardloop.
Delaney sê daar was onlangs ses soortgelyke voorvalle, maar dit wil nie voorkom of dit verwant is aan mekaar nie. Die polisie is op soek na kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die saak word nog ondersoek.”