Hansie Cronje nadoods aangekla

Hansie Cronje is die enigste krieketspeler wat in die klagstaat van die Delhi-polisie, wat verband hou met wedstrydknoeiery van 2000, voorkom. Die klagstaat is Maandag, meer as 13 jaar ná die voorval, by ‘n hof ingedien, berig ESPN.

Die polisie in Delhi het Cronje, toe die Suid-Afrikaanse krieketkaptein, aanvanklik daarvan aangekla dat hy met sy span se eendagwedstryde teen Indië in Maart 2000 vir omkoopgeld geknoei het. Cronje het tydens die King-kommissie in Kaapstad erken dat hy geld van beroepswedders aanvaar het. Hy is in Oktober 2000 lewenslank van krieket verban. Cronje het op 1 Junie 2002 in ‘n vliegtuigongeluk naby George gesterf.

“Daar is ses beskuldigdes in die saak, drie is op borg vrygelaat en twee is oorsee,” het inspekteur Keshav Kumar, die ondersoekbeampte in die saak, gesê. “Die sesde persoon is Hansie Cronje, wat in 2002 gesterf het.” Die ander beskuldigdes is beroepswedders en dobbelaars Rajesh Kalra, Krishan Kumar en Sunil Dara wat op borg vrygelaat is. Sanjeev Chawla en Manmohan Khattar is tans oorsee.

Die polisie in Delhi voer aan dat Cronje sommige van sy spanmaats oorreed het om tydens ‘n eendagwedstryd nie goed te presteer nie. Kolwer Herschelle Gibbs en bouler Henry Williams is vir ses maande lank geskors en deur Suid-Afrikaanse owerhede beboet nadat hulle skuld erken het.

Die polisie het tydens ‘n onverwante uitbuitingsaak ‘n telefoongesprek tussen Cronje en Chawla opgeneem en die skandaal oopgevlek. Chawla is glo tans in die Verenigde Koninkryk en die polisie in Delhi sal nou aansoek doen om hom uit te lewer. “Ons sal nou die hof versoek om Chawla van die Verenigde Koninkryk aan Indië uit te lewer,” het Ravindra Yadav, addisionele kommissaris van die polisie (misdaad) aan AFP gesê. “Die Britse regering sal nie iemand uitlewer alvorens die klagstaat uitgereik is nie. Ons is redelik oortuig Chawla is in Engeland. Dit is ‘n kriminele sameswering. Mense is na die wedstryd om te sien hoe krieket in die ware gees gespeel word. Hulle het nie geweet daar is met die uitslag geknoei nie. Daarom het ons die klagtes gelê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.