Happy Sindane dood aangetref

Happy Sindane

Happy Sindane is Maandag dood aangetref in Tweefontein langs KwaMhlanga, Mpumalanga.

“Dit lyk of hy gestenig is,” het kaptein Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, gesê. Die motief vir die moord is nie bekend nie. Niemand is nog in hegtenis geneem met die voorval nie.

Sindane het in 2003 aangevoer hy is ‘n wit seun wat deur swart mense ontvoer is. Ná ‘n vier maandelange ondersoek om sy identiteit te bepaal, het die kinderhof in Bronkhorstspruit bevind dat sy naam eintlik Abbey Mziyaye is. Hy was die seun van ‘n swart huishulp, Rina Mzayiya. Die hof het bevind dat sy pa moontlik ‘n wit man was, Henry Nick, by wie Mzayiya in 1984 gewerk het. Sindane is daardie jaar gebore. Dit was nie bekend waar Mziyaye of Nick hulself bevind het nie.

‘n Minibustaxi en ‘n motor het in 2004 oor Sindane gery. Toe die ongeluk plaasgevind het, het hy in die pad gelê buite die Sinzanani Trust Village, ‘n plek van veiligheid in Bronkhorstspruit, waar hy in daardie stadium gebly het. Dit was onbekend waarom hy in die pad gelê het.

Hy het later dieselfde jaar in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van opsetlike saakbeskadiging. Hy is in Marabastad, Pretoria, in hegtenis geneem nadat hy glo die ruite van ‘n taxi met klippe gebreek het. Die aanklag is in 2005 laat vaar nadat die taxi-eienaar aan die hof gesê het dat hy self die ruite vervang het en nie met die saak wou voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.