Hartbeespoort-munisipaliteit oor vingers getik oor krag

Die burgerregte-organisasie AfriForum se tak in Hartbeespoort het die Madibeng-munisipaliteit versoek om binne 12 ure die elektrisiteit na inwoners se huise te herstel. Dit volg nadat die munisipaliteit skielik op Vrydag die elektrisiteittoevoer na ongeveer 40 huise afgesny het sonder om die nodige 14 dae kennis te gee. 

Ondanks die feit dat van die inwoners bewyse gelewer het dat hulle rekenings betaal is, is daar voortgegaan om die elektrisiteit af te sny. Inwoners beweer dat die munisipaliteit se kredietbeheerafdeling nie behoorlik funksioneer nie.    

“Die Madibeng-munisipaliteit is deurlopend in die nuus oor wanbesteding, korrupsie en bedrog en verskeie sake is steeds hangende teen amptenare.  Gobodo, forensiese ondersoekers, die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Valke het ondersoeke gelas en ongerymdhede in die munisipaliteit openbaar.  AfriForum oorweeg dit om sy eie ondersoekafdeling te versoek om die inhoud van hierdie ondersoeke te konsolideer en te sorg dat die skuldiges aan die pen ry.  Oorweging sal daaraan gegee word om selfs siviel-strafregtelike sake te open indien die Valke nie die hangende sake dringend afhandel nie,” het Eunice Serfontein, AfriForum se voorsitter van Hartbeespoort, gesê.

AfriForum oorweeg dit om ʼn dringende aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof te bring as die munisipaliteit nie verseker dat die kragtoevoer herstel word nie. Inwoners wat nadelig geraak is, kan e-posse stuur aan Serfontein by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.