Hartbreek-nederlaag vir Cheetahs in Canberra

Die Vrystaatse vlaktes sal weerklink van die Blikore se geweeklaag nadat die Cheetahs op dramatiese wyse teen die Brumbies in die uitspeelrondes in Canberra verloor het.

Nadat die Cheetahs-vleuel Rayno Benjamin in die doodsnikke oorgeduik het om sy span se agterstand met twee punte te laat krimp, het Riaan Smit helaas die doelskop onder groot druk verbrou. Die eindtelling was 15-13 met die halftydtelling 6-5 in die guns van die Brumbies. Die Canberra-span ontmoet volgende week die Bulls op Loftus Versfeld in Pretoria in een van die twee halfeindrondes en hulle sal hul spel aansienlik moet opknap as hulle oor daardie magtige hekkie wil spring. Hulle kon vandag geen drieë teen die Cheetahs druk nie al het hulle hope geleenthede tot hul beskikking gehad.

Die Brumbies se punte is alles deur middle van die skopvoet van Christian Leali’ifano aangeteken hoewel hy ook ’n mislukte poging of twee gehad het. Smit het egter met slegs een uit vier skoppogings pale toe geslaag en dit was uiteindelik van deurslaggewende belang. Die Cheetahs se eerste van twee drieë is reeds in die 16de minuut gedruk toe Willie le Roux ’n baie laterale aangee na Raymond Rhule gestuur het en hy weer die bal blitsig na Johann Sadie aangegee het om ore plat te trek en oor te duik.

Hoewel die Cheetahs vir groot dele van die wedstryd, veral in die eerste helfte, ongedwonge foute gemaak en effe geïsoleerd gespeel het, is hulle ook telkens onbillik gestraf deur die skeidsregter, Glen Jackson. ’n Strafskop teen Heinrich Brüssow in die tweede helfte, wat deur Leali’ifano oorgeskop is, was besonder fel en duidelik tegnies inkorrek. Die Bloemfonteiners kan egter uiters trots voel op hul Super15-seisoen met hul eerste topses-plek ooit nadat hulle laaste in 2009 geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie van der Merwe ·

Is dit toelaatbaar dat ‘n span met 16 spelers op die veld mag draf? Vra maar net!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.