‘n Handjievol Suid-Koreane wat uitgesien het om binnekort ses dae lank met hul Noord-Koreaanse familie herenig te wees, moes verneem dat Noord-Korea skielik dié seldsame reëling onbepaald opgeskort het.
Die laaste keer wat die reëling ‘n werklikheid geword het, was in 2010, toe ongeveer ‘n 100 mense elk van Noord-en Suid-Korea toegelaat is om hul in die Noord-Koreaanse oord Kumgang, te gaan besoek. Sowat 70 000 Suid-Koreane het vir die voorreg om familie te kan besoek aansoek gedoen, maar net ‘n handjievol is gekies.
Die jongste besoek sou aanvanklik op 19 September, toe beide lande die oesfees gevier het, plaasgevind het, en weer het sowat 70 000 Suid-Koreane aansoek gedoen. Die reëlings het egter weer in dryfsand vasgeval.
Families het van mekaar geskei geraak tydens die Koreaanse oorlog wat van 1950 tot 1953 geduur het. Die twee lande is formeel nog in ‘n staat van oorlog gewikkel en slegs ‘n ongemaklike skietstilstand geld.
Noord-Korea het as rede vir die opskorting aangegee Suid-Korea se “vyandelike bedoelings” en omdat Suid-Korea glo daarop uit is om konfrontasie te soek. Die besoekersreëling sal weer oorweeg word wanneer ‘n “normale atmosfeer” geld.
Dit lyk egter of dit eerder weer Noord-Korea is wat konfrontasie met die buitewêreld soek. ‘n Noord-Koreaanse oorlogskip het vanoggend op ‘n Russiese vissersboot wat na Suid-Korea onderweg was losgebrand, aan boord gegaan en die kaptein ondervra.
Die rede vir Noord-Korea se nuwe vyandigheid is nog nie duidelik nie, na dit verlede week nog gelyk het of sake juis aan die normaliseer is. Suid-Koreane kon weer van verlede week af terugkeer na die nywerheidspark by Kaesong in Noord-Korea wat gesamentlik deur die twee lande bedryf word. Noord-Korea het in April die gebied gesluit na die kommunistiese diktatuur skielik die VSA, Suid-Korea en Japan met ‘n kernoorlog gedreig het.
Kan een of ander pes nie daardie landsregering se topstruktuur met hul sieklike ideologie tref nie?