Harvard-studente ruk op teen SA-prof

Studente het Maandag by Harvard-universiteit opgeruk. (Foto: Martha Neuman/Twitter)

Honderde studente aan die Harvard-universiteit in die VSA het Maandag ter ondersteuning van drie studente opgeruk wat na bewering deur ʼn Suid-Afrikaanse professor aan die instelling geteister is.

Dié optog was glo een van die grootste betogings wat die universiteit in jare op die terrein gesien het.

Studente en sommige fakulteitslede het Maandag om 12:15 uit hul klasse gestap in protes teen die universiteit se hantering van die aantygings teen prof. John Comaroff (77), verbonde aan die Fakulteit Antropologie, berig The Harvard Crimson.

Groot ongelukkigheid heers die afgelope tyd hier nadat bewerings aan die lig gekom het dat die instelling glo vir jare misluk het om studente teen Comaroff se optrede te beskerm.

Margaret Czerwienski, Lilia Kilburn en Amulya Mandava het ʼn regsgeding teen die universiteit begin nadat gedetailleerde aantygings oor Comaroff se wangedrag uiteengesit is.

Onder meer beweer die betrokke studente dat Comaroff een van hulle sonder hul toestemming gesoen en betas het en die ander gedreig het om hul loopbane te beëindig indien daar ooit daaroor uitgepraat word.

Kilburn het tydens die optog aan The Harvard Crimson gesê dat hierdie saak nie net oor haar, Czerwienski en Mandava se ondervindinge handel nie.

“Hierdie saak het te doen met Harvard wat versuim het om vinnige en billike prosesse te voorsien vir die hantering van bewerings van teistering en diskriminasie wat deur die wet vereis word.”

“Ons moet dit duidelik maak aan die universiteit, spesifiek aan ons fakulteit en aan almal anders wat dit moet hoor, dat ons nie hierdie onverskilligheid op ons kampusse langer gaan duld nie,” het Czerwienski gesê.

Die universiteit het vroeër die bewerings betwis en gesê dat die regsgeding nie ʼn regverdige of akkurate voorstelling is van die stappe wat die universiteit in reaksie op die bekommernisse gedoen het nie.

Comaroff is verlede maand op onbetaalde administratiewe verlof geplaas en sy onderrig- ​​en adviesaktiwiteite vir die 2022-’23‑ akademiese jaar is beperk.

Nicole Merhill, direkteur van Harvard se geslagsgelykheiddepartement, het in ʼn verklaring gesê sy is bekommerd oor die bewerings in die regsgeding wat handel oor die universiteit se prosesse vir wanneer sulke gevalle na vore kom.

“Hierdie bewerings het die potensiaal om ʼn verkoelende effek op ons gemeenskapslede se vertroue in die ondersoekproses te hê en ook onsekerheid oor die toeganklikheid van berading en ander te skep.”

Professor se wangedrag verdedig

Comaroff se prokureurs het intussen in ʼn verklaring gesê dat hy ontken dat hy ooit enige student geteister of gedreig het, berig die nuusagentskap WCVB.

Luidens die regsgeding wat deur die studente begin is, beweer hulle dat Comaroff vir Kilburn herhaaldelik en met geweld gesoen het.

Boonop beweer die studente dat hy haar verkragting en moord in die openbaar op ʼn grafiese en bisarre manier voorgestel het en haar graadvordering ontspoor het.

Czerwienski en Mandava het gesê dat hulle deur die wraak van Comaroff in die gesig gestaar is toe hulle “ander studente oor hom wou waarsku”.

Comaroff het egter ontken dat hy Kilburn gesoen of op ʼn onvanpaste wyse aan haar geraak het.

Hy het ook gesê dat die gesprek oor seksuele geweld waarin Kilburn se verkragting beskryf is, aangewakker is deur wat hy beskou het as ʼn risiko vir haar veiligheid. Kilburn het glo beplan om haar lewensmaat van dieselfde geslag saam te neem op veldwerk in Kameroen en Comaroff beweer dat dit ʼn risiko vir albei van hulle sou wees.

“Dit was ʼn noodsaaklike gesprek vir haar veiligheid en talle fakulteitsgetuies het getuig dat sy advies gepas was,” het Comaroff se prokureurs geskryf, berig WCVB.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

KAIROS ·

Anthropology is the scientific study of humanity, concerned with human behavior….. DIt is nou vir jou ironies. Mens sou dink hy kon homslef beheer…

Mans leer ook nooit nie. Lus is n vreeslike ding.

Jaco ·

As ek die kans kan kry om uit hierdie aaklige SA weg te kom, sal ek in my gasheerland NET die grond elke dag soen uit dankbaarheid dat ek daar ‘n beter heenkome gekry het. Hier gaan dié man en mors sy kanse op….

Althes ·

Hoekom is dit aaklig vir jou Jaco?
Het jy werk, het jy ñ dak oor jou kop?
Was jy en jou familie slagoffers van geweldsmisdaad?

Kobus ·

Dis ‘n teken van hierdie tragiese tye in SA, dat ‘n mens moet dankbaar wees dat jy nog nie deurgeloop het onder rampokkery en en moorddadigheid nie, en moet stilbly as dit nog nie gebeur het nie. Dit breek ‘n mens se hart om jou land in hierdie toestand te beleef. Baie baie baie mense wil liewer elders gaan swaarkry met aanpassingsprobleme, maar hulle kan dit nie bekostig nie. So sit ons met ‘n nasie vol gegriefde burgers wat nie meer lojaliteit vir die land voel nie, want daar word op soveel vlakke afgebreek en ondermyn en verneuk en belieg. Moeilik om geesdriftig te bly, moeilik.

Christine ·

Maar hy pleeg die dade in die VSA! Die land het niks te doen daarmee nie. Die man kon homself nie inhou nie!

Koos ·

Ek hoop nie hy kom weg soos Andrew met ‘n “randjie in die handjie” nie, hierdie tipe mense moet in die tronk sit.

VaalDonkie ·

Afrika en Afro-Amerikaanse Studies. Ja toemaar, dis nou nie juis Inginieurswese of wetenskap nie.

JohanR ·

prof. John Comaroff jy moet jou hande tuis hou. Jy is nie nou in Suid Afrika, en jy is nie Jacob Zuma nie!

Lillian ·

Klink my soos ‘n uitlander … maar laat hy kry wat hy verdien, orige ou man

Philip ·

Soos ou Genis aan Veldsman gese het in Kooperasie Stories . My vriend die vlees is vreeslik in die donker.

pompies ·

Hel maar julle haal die ou man uit nog lank voor hy skuldig bevind is. En die wat so graag wil weg hardloop wees baie bly julle is nie in afghanistan nie.

Johan D ·

“Na bewering” en die mense gaan bos asof hy in ʼn hof skuldig bevind is, ek praat nou sommer spesifiek van kommentaar hier op die berig!

Yvonne ·

Daar is talle sulke orige mans, wat beskerm word omdat mense nie na vore wil kom nie…..sies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.