Hasie in Mandela se oor

Mandela se standbeeld voor die Uniegebou in Pretoria

Mandela se standbeeld voor die Uniegebou in Pretoria

Die departement van kuns en kultuur is glo stomgeslaan oor ʼn hasie in die regteroor van Nelson Mandela se standbeeld, het Beeld Saterdag berig.

André Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren, die beeldhouers van die nege meter hoë bronsbeeld, het in die geheim die hasie in die oor geplaas, berig die koerant. Die twee het aan die koerant gesê die hasie is ʼn klein “stempel” van hul werk, aangesien die departement hulle verbied het om hul handtekeninge onderaan die een broekspyp van die standbeeld aan te bring.

Prinsloo en Janse van Vuuren sê die hasie verteenwoordig simbolies die haas waarteen hulle die standbeeld moes klaarmaak. Prinsloo sê dié klein “stempel” is weggesteek in die oor en doen nie afbreuk aan die standbeeld nie. “Mens het ʼn langlens (kamera) of ʼn verkyker nodig om dit te sien,” het hy gesê.

“Talle mense het die beeld van naby gesien tydens die gietproses, en niemand het dit opgemerk nie.”

Mack Lewele, woordvoerder van die departement, het aan die koerant gesê hy is nie bewus van die toevoeging nie, en dit sal ondersoek word. “Ons kan nie kommentaar lewer voordat ons dit nie eers self gesien het nie,” het Lewele gesê. Hy het nie aangedui of die departement dit sou oorweeg om die hasie te verwyder nie.

Die standbeeld is verlede maand op Versoeningsdag voor die Uniegebou in Pretoria onthul.

Klik hier en hier om foto’s van die hasie in die oor te sien.

–SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santa Lessing ·

Madiba sou in die EERSTE instansie NOOIT die kunstenaars hul REG ONTNEEM het om hul name op die standbeeld te plaas nie. Hy sou hul VOLLE ERKENNING vir hul harde werk gegee het.

Die hasie doen gladnie afbreuk aan die standbeeld nie, inteendeel dis uniek! Indien dit verwyder moet word MOET die kunstenaars toegelaat word om hul name openlik op die standbeeld aan te bring. Basta met politiekery oor als in Suid-Afrika!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.