‘n 18-jarige man het in Lichtenburg in Noordwes verdrink.
“Montshiwa Machwisa, ‘n hawelose man, het op Kersdag in die Eeufeesdam verdrink,” het kapt. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie in Noordwes, gesê. “Na bewering was Montshiwa en sy vriend op soek na kos in asblikke daar naby, toe die voorval gebeur het. Hulle het glo besluit om oor die dam te swem nadat hulle geen kos in die asblikke kon opspoor nie. Die mans het gehoop om kos aan die oorkantste wal op te spoor.”
Machwisa se vriend het besef die water is te gevaarlik om deur te swem en het daarteen besluit, maar Machwisa het deurgedruk.
Die vriend het hulp ontbied toe hy Machwisa nie meer in die water kon sien nie. “Polisieduikers is ontbied en hulle het op die liggaam afgekom. Hy is na ‘n staatslykhuis geneem. Die ondersoek duur voort,” het Funani gesê.