Hazyview-aanvalle: Twee vas nadat hulle wéér toeslaan

Hazyview

Hazyview

Twee mans is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die verkragting van twee vroue op 7 Oktober by die Tatenda-gastehuis in Hazyview, het die polisie in Mpumalanga Vrydag gesê.

“Die twee vroue het wakker geword toe twee gewapende mans geld van hulle geëis het,” het kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, gesê. Die aanvallers het die kamer deursoek en drie selfone en juwele gebuit en hulle verkrag. Een van die vroue is swanger.

Die verdagte is Donderdag na nóg ‘n rooftog in die gebied aangekeer. Dieselfde verdagte het glo, saam met twee ander mans, by twee chalets by Kruger Park Lodge in Hazyview ingebreek. Twee vroue van Boksburg het in een van die chalets gebly en ‘n bejaarde egpaar van Kaapstad het in die tweede chalet gebly. Die verdagtes het onder andere kontant, selfone, kameras en iPads gesteel.

“Nadat die voorval aangemeld is, het die polisie ‘n omvattende soektog van stapel gestuur,” het Hlathi gesê. “’n 25-jarige man is binne ‘n paar uur by Mariti Village naby Hazyview aangekeer. Die man het van die gesteelde goedere by hom gehad.”

Volgens Hlathi het die polisie inligting ontvang dat ‘n tweede verdagte in ‘n bos naby die dorpie gesien is. Die polisie het die 29-jarige man aangekeer en hy is betrap met van die gesteelde goedere. Toe hulle hom oor die gesteelde items uitvra, het hy vrylik aan hulle erken dat hy en ‘n vriend twee vroue by Tatenda-gastehuis beroof en verkrag het.

“Hy het verder beken dat hy in 2008 deel was van ‘n bende wat toegeslaan het op ‘n huis waar ‘n vrou alleen gebly het. Hulle het haar met ‘n vuurwapen aangehou en elektroniese toerusting gebuit voordat hulle gevlug het.”

Die polisie is nou besig met ‘n proses om al die kriminele bedrywighede van die verdagte te ontrafel. “Ons glo hy is deel van ‘n bende wat in groepe werk en vakansiegangers teiken,” het Hlathi bygevoeg.

Die verdagtes sal Maandag in die Witrivier-landdroshof verskyn.

Lees ook:
Verband tussen Hazyview-aanvalle, sê polisie
Swanger vrou en kollega saam verkrag in Hazyview
Kinders tydens skoolkamp in Hazyview beroof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicolé de Waal ·

Dit is baie lekker om te weet dat iets wel gedoen word aan die misdade wat gepleeg word, veral as ons medemense met geweld gedreig of gedwing word! Die enigste gemoedsdalende feit van hierdie berig is dat Dié wat die swoeg en sweet van hierdie operasie deurgedring het en deurnag gewerk het glad nie eers erkenning kry nie, terwyl die polisie wat onderleiding van hierdie lokale Sekuriteits maatskappy hoog geprys word! Mnr. Hlati, kry asb jou feite reg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.