Hebreeus in die Afrika-konteks onder die loep

DawidstadDie pasgestigte departement Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat bied binnekort ʼn internasionale konferensie aan oor Hebreeus in die Afrika-konteks.

Sprekers van Israel, die Verenigde State van Amerika, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Zambië, Kongo en Nigerië sal aan die konferensie deelneem. Die konferensie vind van 27 tot 29 Januarie 2014 plaas.

Die doel van die konferensie is om die klem te laat val op onlangse navorsing in die Hebreeuse taal en kultuur deur internasionale navorsing na die universiteit te bring en deur die belangrikheid van die Afrika-konteks as ‘n konseptuele ruimte vir navorsing oor Hebreeus te onderstreep. Die ryke kulturele erfenis van Hebreeus vind veral weerklank in Afrika deur middel van die Hebreeuse Bybel (Ou Testament).

Sommige hoogtepunte van die konferensie sluit in nuwe navorsing oor die gebruik van antieke Hebreeuse manuskripte deur Jode in die Persiese en Romeinse tydperke as ‘n manier om hulle godsdienstige en etniese identiteit in tye van nood te behou, linguistiese navorsing oor metafore in die Hebreeuse Bybel (Ou Testament), Jode en nie-Jode in die Hebreeuse en Jiddisje geskrifte van die Suid-Afrikaanse skrywer Morris Hoffman, die ontwikkeling van ‘n rabbynse gebed vir reën in die land Israel en in Suid-Afrika, opvoedkundige vooruitgang in die onderrig van Hebreeus in Afrika, en die vertaling van die Hebreeuse Bybel (Ou Testament) as ‘n manier om die VaTsonga kulturele identiteit te hervorm.

Die bestudering van die antieke en moderne Hebreeuse taal en kultuur bied belangrike insigte in die ingewikkelde kulturele situasie van hedendaagse Afrika oor die algemeen, en Suid-Afrika in die besonder. Die gebruik van taal deur godsdienstige en etniese minderheidsgroepe kan ‘n kragtige dryfveer vir identiteit wees in onstuimige politieke realiteite. Godsdienstige tekste kan in ‘n nuwe verband geplaas word om leiding te verskaf in nuwe kulturele kontekste of vertaal word om plaaslike gemeenskappe te verbeter en te bemagtig.

Vir nadere besonderhede skakel met prof Cynthia Miller-Naudé, hoof van die Departement Hebreeus, by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.