Heinrich draf uit vir Cheetahs teen Force

Heinrich Brüssow

Die Springbok, Heinrich Brüssow is uiteindelik weer terug in die Cheetahs se begin-15-tal na sy lang afwesigheid weens ‘n besering.

Brüssow is ingesluit in die plek van die beseerde Frans Viljoen wat Woensdag saam met die beseerde Springboklosskakel, Johan Goosen, terug huis toe vlieg.

Riaan Smit sal in Goosen se plek op losskakel teen die Western Force uitdraf, waar hy teenoor sy eertydse spanmaat, Sias Ebersohn sal stelling inneem. Dit is die enigste twee veranderings aan die span wat verlede Vrydag met die Waratahs afgereken het. Boom Prinsloo en Burton Francis is die nuwelinge op die bank.

Die stryd tussen Smit en Ebersohn sal waarskynlik nie die hoogtepunt van die wedstryd wees nie, maar stellig die interessantste. Ebersohn het na hy sy kontrak met die Force geteken het, nie veel doekies omgedraai oor wat hy gemeen het swak behandeling van die Cheetahs se afrigtingspan was nie. Smit sal weer wys dat sy keuse bo Ebersohn na Goosen se beserings op verdienste was. Smit het destyds boonop as skerpskutter ontpop, terwyl Ebersohn onder nuwe afrigters sy voete gevind het, en weer die soort spel opdis wat hom eens as toeskomstige Springbok laat uitstaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.