“Helde sterf nooit nie” – Zelda la Grange

Zelda la Grange en Nelson Mandela Foto: Mail&Guardian

Zelda la Grange en Nelson Mandela Foto: Mail&Guardian

Zelda la Grange, voormalige persoonlike assistent van oud-president Nelson Mandela, het Vrydag in ʼn verklaring haar meegevoel betuig met sy naasbestaandes en verduidelik hoe dié staatsman haar lewe verander het.

“Nelson Mandela het mense geïnspireer om te vergewe, om te versoen, om om te gee, om onselfsugtig te wees, om verdraagsaam te wees, om waardigheid te behou maak nie saak wat die omstandighede is nie,” het La Grange in ʼn verklaring gesê. “Ek kan hiervan getuig, omdat hy 19 jaar lank my lewe verander het. Ek is geseënd en geëerd deur die voorreg om hom te kon bedien.”

La Grange sê sy het dikwels gebuk gegaan onder druk. “Maar dan het ek na hom gekyk met sy genade en energie. Ek het nooit weggegaan nie, ek kon nie. Nelson Mandela het nie lojaliteit afgedwing nie, maar hy was die inspirasie vir die geweldige en onwrikbare lojaliteit wat hy ontvang het van almal wie se lewens hy aangeraak het.”

Sy sê sy begin stadigaan besef dat sy hom nooit weer sal sien nie. “Maar helde sterf nooit nie. So hartseer soos wat ek voel om te weet dat ek nooit weer by ʼn vertrek sal instap en sy aansteeklike glimlag sal sien of hom hoor sê “O Zeldina hier is jy!” nie, besef ek dat Madiba se nalatenskap nie afhanklik is van sy teenwoordigheid nie.

Sy nalatenskap sal nie net voortbestaan in alles wat na hom vernoem is nie; nie net die boeke, foto’s en rolprente nie. Dit sal voortbestaan elke keer wat ons sy naam hoor, die respek en liefde, die eenheid wat hy in ons land inspireer het, en veral hoe ons aan mekaar verbind word.”

“Dankie Khulu dat jy in my geglo het, dat jy my ʼn beter mens, ʼn beter Suid-Afrikaner, gemaak het. Tot weersiens Khulu!! Sal jou liefhê vir die res van my lewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.