Helder vooruitsig vir Aros op Magaliesberg-kampus

Kristin Serfontein en San-Mari van Niekerk, studenteraadlede by Aros. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“ʼn Mens kan dikwels daardie punt bereik waar jy net afgrond toe wil kyk omdat die lewe nie altyd maklik is nie, maar danksy die pragtige uitsig vanaf ons nuwe kampus hier teen die voetheuwel van die Magaliesberg is dit maklik om eerder elke dag vorentoe te kyk.”

Só het prof. Rikus Fick, rektor van die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), gesê tydens die amptelike ingebruikneming van hul splinternuwe kampus in Montanapark, Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig dat dié private hoëronderwysinstelling reeds in 2022 sy sowat 2 400 studente in sy nuwe tuiste begin verwelkom het, maar daar is besluit om ook dié mylpaal tydens ʼn spoggerige geselligheid te vier.

Aros volg sedert sy stigting in 2004 ʼn afstandsonderrigmodel wat bykomende ondersteuning aan onderwysstudente in die vorm van direkte kontaksessies en/of interaktiewe, aanlyn sessies, werksessies of ekstra klasse bied.

Daarom is dié onderrigmodel ideaal vir voornemende onderwysers wat hul studie en praktiese onderwys- ervaring tydens hul vier studiejare wil kombineer.

Nie net Aros nie, maar die ook skole saam met wie die instelling nes op sy vorige kampus in Waverley, Pretoria, geskrop het, het die afgelope paar jaar toenemend gegroei en die behoefte het ontstaan om ʼn volwaardige kampus in te rig wat Aros sy eie kon noem.

Nuus oor ʼn beskikbare perseel wat voorheen aan Absa en later die private tersiêre instansie Stadio behoort het, het in 2021 onder die aandag van ʼn Aros-raadslid gekom.

“In drie dae se tyd is die lening goedgekeur, ons aanbod aanvaar en al ons eiendom in Waverley verkoop. Ons kon die Here se hand in hierdie proses sien,” het Fick Woensdagaand aan Maroela Media by die ingebruikneming gesê.

Die kampus se heerlike uitsig. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy is ook bly om die leisels as rektor aan prof. Kobus Mentz op 1 Junie vanjaar oor te gee nadat dié groot trek plaasgevind het.

“Dit is nie eintlik vir my bittersoet nie, want ek glo ʼn mens moet die wysheid hê om te weet wanneer jou tyd verby is. Die droom van ʼn kampus kom al ʼn lang pad en het harde werk van ons spanne geverg. Ek is dankbaar dat ek in my tyd ʼn klein bydra kon lewer om dit te laat realiseer.”

Sy droom vir Aros om is om die nagraadse aanbiedings- en afstandonderrigmodel, wat tans voetspore in dele die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Limpopo het, verder uit te brei.

San-Mari van Niekerk, een van dié afstandleerstudente en lid van Aros se studenteraad, het by die ingebruikneming gesê dat die nuwe perseel die gevoel van ʼn volwaardige studentelewe bevorder.

Prof. Rikus Fick, rektor van Aros. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Die nuwe kampus lyk baie meer amptelik en professioneel en daar’s heerlike ruimtes om te kuier en aktiwiteite te doen.”

As ʼn vlieënier bied Aros se onderrigmodel vir haar ook die geleentheid om haar ander passies uit te leef terwyl sy studeer.

Sy sê die “Arries”, soos die studente na hulself verwys, het reeds hul nuwe kampus met ʼn poeierverfpretloop ingewy en gaan binnekort ʼn sokkie in hul  spoggerige restaurant aanbied.

Kristin Serfontein, die studenteraadsvoorsitter, sê Aros se Christelike grondslag en moedertaalonderrigmodel skep ʼn uiters unieke leerervaring vir sy onderwysstudente.

“Omdat ons ʼn kleiner studentekorps is, is die samesyn ook heeltemal uniek. Hier is jy werklik deel van ʼn familie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Feetloose ·

Baie geluk aan Aros. Ook so aan prof Kobus Mentz, saam met wie ek op Laerskool Silverton was. Hy was destyds ons hoofseun en sy pa ons dominee. Het as vriend baie wonderlike ure by sy ouerhuis deurgebring. Sterkte vir die toekoms daar en mag God julle instansie ryklik seën met die kennis om wonderlike onderwysers uit te stuur om ons jeug op die regte pad te lei en te onderrig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.