Die 69-jarige motorwag wat geskiet is toe hy en sy 40-jarige dogter rowers verhoed het om geld voor ʼn bank in Brakpan te steel, het aan sy beserings beswyk.
“Die man se toestand het nie verbeter nie, en hy is Woensdag in die hospitaal oorlede,” het kapt. Joep Joubert, ʼn polisiewoordvoerder, Vrydag gesê.
Maroela Media het Maandag berig twee motorwagte is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat hulle deur rowers geskiet is.
Joubert het toe gesê die rowers het ʼn 32-jarige man van ʼn sak kontant voor ʼn bank in Voortrekkerstraat beroof. Die twee rowers het na ʼn parkeerterrein agter die bank gehardloop en die 69-jarige pa en sy dogter, in haar 40’s, het hulle konfronteer. “Die vrou is twee keer in die maag geskiet en haar pa is een keer, ook in die maag, geskiet.” Die rowers het die sak kontant agtergelaat en saam met drie medepligtiges ontsnap.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. – SAPA
Ag nee! Ek is so jammer. Jammer vir die volwasse vrou, jammer vir die familie. Dit is net hartseer om onder sulke omstandighede uit die lewe geruk te word deur onopgevoede barbare. Iemand moet tot verantwoording geroep word.
Ek hoop die betrokke bank sal mildelik bydrae tot die begrafniskoste van die dapper motorwag.