Die Afrikaanse sanger, Helené Bester, is stabiel en buite gevaar in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal. Maroela Media het vroeër berig Bester is in die hospitaal nadat sy haar babadogtertjie verloor het as gevolg van geboortekomplikasies.
Lydia Winchester, ʼn musiekpromotor, het Maandag in ʼn verklaring gesê Bester is drie weke gelede gediagnoseer met ‘n bloedklont (diep veneuse trombus of DVT) in haar linkerbeen wat ʼn algemene komplikasie onder swanger vroue is. Sy is ook later met pulmonale embolus gediagnoseer nadat ʼn deel van die bloedklont losgekom en na haar longe beweeg het. “Dokters het haar onmiddellik met Clexane en later Warfarin behandel om die klonte op te los,” het Winchester gesê.
“Die behandeling het gelei tot komplikasies wat interne abdominale bloeding veroorsaak het. ‘n Noodkeiser is Sondag gedoen, maar haar babadogtertjie het dit nie oorleef nie. Sy was 33 weke swanger en die babatjie het reeds 2,5kg geweeg,” het Winchester bygevoeg.
Helené is tans stabiel en buite gevaar in die hoësorgeenheid.
Ons innige meegevoel met die groot verlies. Ons dink aan julle en dit is net Onse Grote Vader wat daar die krag, genade en vertroosting kan gee. Liefde.
Jammer om te hoor van die groot verlies, mag ons Hemelse Vader julle in sy hande toe vou en vertroos.
Helenè ons wens jou ook spoedige beterskap toe en volkome herstel.
Ons is regtig jammer om die teleurstellende nuus te hoor. Ons bid vir vertroosting en n bonatuurlike spoedige herstel. baie seen en liefde