Helené Bester kry siffie in been om bloedklont te keer

Die Afrikaanse sanger, Helené Bester, het Dinsdag ʼn operasie ondergaan in ʼn poging om te keer dat ʼn bloedklont wat vergroot het, na haar hart of longe beweeg.

Helene se suster, Nadia Joubert, het Dinsdagmiddag in ʼn SMS gesê: “ʼn Bloedklont in Helené se been het verdubbel in grootte. Sy is na ʼn ander hospitaal oorgeplaas waar ʼn siffie in haar been ingeplant gaan word om die bloedklont te keer.”

Joubert het laat Dinsdagaand laat weet dat die prosedure suksesvol was. “Helené is uit die teater en stabiel,” het sy gesê.

Maroela Media het Maandag berig Bester (36) is in die hospitaal nadat sy haar babadogtertjie verloor het as gevolg van geboortekomplikasies. Sy is drie weke gelede met ‘n bloedklont (diep veneuse trombus of DVT) in haar linkerbeen gediagnoseer wat ʼn algemene komplikasie onder swanger vroue is. Sy is ook later met pulmonale embolus gediagnoseer nadat ʼn deel van die bloedklont losgekom en na haar longe beweeg het. “Dokters het haar onmiddellik met Clexane en later Warfarin behandel om die klonte op te los,” het Lydia Winchester, ʼn musiekpromotor, aan Maroela Media gesê.

“Die behandeling het gelei tot komplikasies wat interne abdominale bloeding veroorsaak het. ‘n Noodkeiser is Sondag gedoen, maar haar babadogtertjie het dit nie oorleef nie. Sy was 33 weke swanger en die babatjie het reeds 2,5kg geweeg,” het Winchester bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Heidi ·

Baie hartseer! Selfde het met my Ma destyds gebeur met swangerskap reeds op 7 maande, maar sus het oorleef en is verstandelik gestrem, maar altyd vir ons ‘n plesier. Baie seën en sterkte en volkome herstel word jou toegebid, Helené.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.