Helfte van kampioenswemmer se medaljes geroof

Cameron van der Burgh

Cameron van der Burgh, Suid-Afrikaanse kampioenswemmer het helfte van sy medaljes en trofeë weens diefstal verloor.

Van der Burgh, wat Suid-Afrika tydens die Olimpiese Spele in Londen later dié jaar sal verteenwoordig het gesê die medaljes en trofeë is “onvervangbaar”, aangesien dit in verskeie lande gewen is, het die Saturday Star berig. Die medaljes en trofeë is Vrydag, op Van der Burg se 24ste verjaardag gesteel. Van der Burgh was by ʼn swemoefening en sy ma het gaan inkopies doen toe die rooftog plaasgevind het.

“Toe my ma by die huis kom, kon sy nie haar oë glo nie. Bykans alles is gesteel. Hulle het deur die diefwering gebreek en ons helder oordag beroof. Ek kan dit nie glo nie,” het Van der Burg gesê. “Ek is bly dat niemand seergekry het nie, dit is die belangrikste.”

Van der Burgh sal die internasionale swemliggaam kontak om te hoor of dit moontlik is om die medaljes en trofeë te vervang.

Hy is ook ongelukkig oor die manier waarop die polisie die saak hanteer het. “Toe ek van die oefening af teruggekom het, het ek dadelik die polisie gekontak. Hulle het ʼn halfuur later opgedaag, maar geen vingerafdrukke geneem nie,” het hy gesê.

“Voor die voorval was ek 100% op die Spele gefokus, maar ek het nou van my fokus verloor.” Van der Burgh sê indien hy ʼn medalje by die Spele ontvang sal hy dit in veilige bewaring by die bank laat.

Van der Burgh het Suid-Afrika in 2008 by die Somer Olimpiese Spele verteenwoordig en verskeie wêreldkampioenskap-medaljes ingepalm. Hy is tans die wêreldrekordhouer in die 25m en 50m kortafstanditems en 50m langafstanditem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.