Helpende Hand belê R1,5 miljoen in Afrikaanse kinders se toekoms

skooltassieSolidariteit Helpende Hand het ʼn projek van R1,5 miljoen van stapel gestuur om te verseker dat Afrikaanse leerlinge ʼn beter toekoms tegemoet gaan.

R1 miljoen sal aangewend word vir die nasionale Skooltassieprojek wat behels dat behoeftige Afrikaanse graadeens op ʼn gelyke voet met hulle klasmaats wegspring en ten minste die basiese skryfbehoeftes en ʼn skooltassie het. 

Deur die nasionale Skooltassieprojek het Helpende Hand sedert 2007 reeds 16 500 skooltassies en basiese skryfbehoeftes aan graadeens regoor Suid-Afrika versprei. In 2014 sal 4 500 tassies weer aan behoeftige graadeens van 205 skole uitgedeel word.

Elke swart rugsakkie bevat ʼn skêr, gom, liniaal, witbord, inkleurpotlode, uitdraaikryte, klei, waterverf, legkaart, springtou en tennisbal. Dié skryfbehoeftes stem ooreen met die basiese gereedskap wat deur die meerderheid skole vir ʼn graadeen-skooltas voorgestel word.

“Helpende Hand glo dat armoede voorkom kan word deur in opleiding te belê,” sê Anel du Preez, die projekorganiseerder. “Deur vir kinders ʼn goeie begin te gee, belê ons in die toekoms van Suid-Afrika.

Die verbreking van armoede begin met die gevoel van hoop wat ʼn skooltassie vir ʼn behoeftige kind skep.”

Vanjaar word ʼn verdere halfmiljoen rand in samewerking met die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) en Fedsas aangewend vir ʼn nuwe projek gemik op die bevordering van graadagts se wiskundige vaardighede.

Deur die 8te-tasprojek word ʼn rugsakkie met ʼn finansiële sakrekenaar en passerstel aan graadagt-leerlinge versprei.

“Die doelwit van die projek is om vroegtydig ontwikkelingsprobleme in wiskunde aan te spreek,” sê Du Preez. “Die produkte en dienste wat gelewer word, het ten doel om die kind te help om voorkeurberoepe te ontsluit wat hul vaardighede eendag onmisbaar gaan maak in die ekonomie.”

Om die Skooltassieprojek te ondersteun, SMS die woord “tassie” na 38969 en dra R10 by. ʼn Agent sal jou skakel. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Oppas tog net dat Zuam&Kie nie ‘n probleem met die het nie. Maar baie dankie Helpende Hand, julle laat my trots voel om ‘n Afrikaner te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.