Helpende Hand skors vrywilliger oor verkragting-bewerings

Solidariteit se Helpende Hand het ʼn vrywilliger in die Wes-Kaap van alle aktiwiteite van dié hulporganisasie geskors nadat hy in die hof verskyn het vir die beweerde verkragting van ʼn 12-jarige seun.

Die 12-jarige kind het die verkragting met sy selfoon afgeneem. The New Age berig dat die voorval buite Gordonsbaai plaasgevind het in ‘n karavaan wat deur die groep geskenk is om die seun se behoeftige ouers te help. ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Andre Traut, sê die 60-jarige man is Maandag in hegtenis geneem. Hy is van verkragting aangekla en het Woensdag in die Strand landdroshof verskyn.

Helpende Hand sê intussen hy gaan ook die polisie in die strafregtelike ondersoek ondersteun. Verteenwoordigers van Helpende Hand het reeds gesprekke met die kind se ma gehad om hom en die gesin te ondersteun. Die gesin ontvang tans berading van maatskaplike werkers. Helpende Hand het die gesin gehelp om verblyf en die ma gehelp om ʼn werk te kry. Die aangeklaagde is nie ʼn werknemer van Helpende Hand nie en was op geen manier deur die organisasie vergoed nie. Honderde vrywilligers regoor Suid-Afrika bied hulle ondersteuning aan Helpende Hand om die nood van duisende mense te help verlig.

“Waar onreg teen ʼn kind gepleeg word, draai ons ons gesig na die kind toe. Ons wil deur ons hantering van hierdie geval aan Suid-Afrika ʼn voorbeeld stel oor hoe om sulke situasies te hanteer. Daar moet onmiddellik opgetree word as daar enige bewerings van die misbruik van ʼn kind is. Ons oproep aan die gemeenskap is om ʼn kultuur te onwikkel waar die misbruik van kinders geensins geduld word nie. Terselfdertyd moet ons ʼn kultuur vestig waar daar behoorlik omgesien word na die kinders wat slagoffers van sulke oortredings is,” sê Dirk Hermann, voorsitter van Helpende Hand se direksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.