Helpende Hand versoek OB om tenderproses vir Limpopo-voedingskema te ondersoek

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Solidariteit Helpende Hand sal hierdie week die Openbare Beskermer (OB) en die ouditeur-generaal versoek om dringend ’n ondersoek in te stel na die tenderproses van Limpopo se provinsiale onderwysdepartement se skolevoedingskema. Dit volg nadat City Press berig het dat ’n tender van R7,7 miljoen toegeken is aan die dogter van Lily Kekana, die departement se bestuurder van spesiale projekte wat verantwoordelik is vir voedingsprogramme by skole in die provinsie.

Helpende Hand sal ook in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) die departement versoek om die betrokke tender spesifikasies, – aansoeke en besonderhede van die wen-aansoek bekend te maak.

Volgens die koerant is die kontrak aan Mmaseala Kekana se maatskappy, Mmarekhu Retail and Supplies, toegeken toe sy nog ’n 23-jarige student was. Die kontrak is intussen twee keer hernu en Mmaseala verskaf na bewering steeds kos aan 6 800 leerlinge in en rondom Mokopane.

Daarbenewens het Lily Kekana se broer, Mabitsela Sebelebele, glo ook voordeel getrek uit haar posisie by die departement nadat ’n kontrak van R5,6 miljoen aan hom toegeken is om kos aan nege skole rondom Mokopane te verskaf.

“Dit is hoogs verdag dat twee familielede van die projekbestuurder van die provinsie se voedingskema kontrakte ontvang om voedsel aan skole te verskaf,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons dring daarop aan dat hierdie tenderprosesse ondersoek word en indien onreëlmatighede ontbloot word, moet die betrokke persone strafregtelik vervolg word. Ons kan nie toelaat dat belastingbetalers se swaarverdiende geld deur korrupte praktyke wanbestee word, terwyl talle behoeftige kinders elke dag honger op die skoolbanke moet sit nie.”

Volgens Brink is die aanvanklike syfers soos deur die media berig ook verdag. “Deur middel van ons nasionale Kosblikkieprojek het Helpende Hand in 2013 aan 5 126 kinders landswyd op ‘n gereelde basis ’n gebalanseerde maaltyd verskaf teen ’n koste van net meer as R210 000. Behalwe die verdagte tender-toekenning, sal ons graag ook wil sien hoekom die departement met R7,7 miljoen slegs vir 6 800 kinders kan kos gee,” sê hy.

Lees ook:
Staatsamptenaar se dogter het groot tender gekry

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.