Die liggaam van ʼn hengelaar is Sondag naby Kaapstad aangetref.
Volgens Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die stad se rampsbestuureenheid, het haaikykers die man se liggaam Saterdag sowat 40 meter van die kus tussen Baileys Cottage en Surfers’ Corner in Muizenberg opgemerk.
“Plaaslike owerhede, die polisie se duikeenheid en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur, maar die soektog is Saterdagaand gestaak weens swak sigbaarheid. Die soektog is Sondag hervat en die man se liggaam is omstreeks 10:30 opgespoor,” het Solomons-Johannes gesê.
Die man is intussen uitgeken as die 59-jarige Premduth Parboo van Steenberg. Daar word vermoed dat hy Saterdag deur ʼn golf van die rotse af gespoel is.