Hengelaar oorleef haai-aanval

ʼn Kajak-hengelaar kan nou van sy eie haai-aanval getuig nadat een ʼn hap uit sy boot geneem het, het die Herald Online Donderdag berig.

“Die haai het van onder af gekom, soortgelyk wanneer hy ʼn rob aanval. Ek het hom nie gesien totdat dit gebeur het nie,” het Werner Coetzee, 35, gesê. Die voorval het Woensdagoggend net voor sonopkoms naby Noordhoek in Port Elizabeth plaasgevind. Coetzee het gesê die Groot Withaai het uit die water opgekom, en hom en sy boot só hard gestamp dat hy in die lug opgegooi is. “Ek het ʼn Pinnacle-kajak wat nogal ʼn hou kan vat, maar ek en die kajak is ten minste 2,5 meter in die lug opgegooi,” het hy gesê. “My kajak en al my toerusting weeg ongeveer 38 kg en ek weeg ongeveer 102 kg.” Coetzee het vertel dat toe hy weer die water tref was sy kajak langs hom, maar onderstebo. “Dit is eers tóé dat ek die haai gesien het. Hy was so vier meter lank. Hy was maar ʼn paar voet van my af weg en het aan die kajak gehap. Ons het na mekaar gekyk en toe het hy sy fokus na my verskuif.” Coetzee sê hy het toe bo-op die onderstebo kajak geklim. “Ek het omtrent vir ʼn minuut daar gelê, maar dit het baie langer gevoel… Ek het gewag vir die volgende aanval, maar dit het nie gebeur nie.” Volgens Coetzee het die haai toe weggeswem – moontlik omdat dit nie die veselglas-kajak as ʼn versnappering beskou het nie. Volgens Coetzee het twee van sy visstokke en sy sonbril tydens die aanval verdwyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.