Hengelaars word natuurbewaarders

Vislyn sit om ‘n bleshonder se pote vas

ʼn Groep hengelaars wat gereeld die Rietvleidam in Pretoria besoek, het besluit om aksie te neem om dié dam op te ruim en van honderde stukkies afval vislyn en bedreigde plantspesies te verlos.

Neil Engelbrecht, organiseerder van die skoonmaakprojek, is self ʼn kranige hengelaar. “Die dam word deur honderde stukkies ou vislyn besoedel. Die oorgroeide plantbanke dra ook tot die probleem by wat vislyne breek. Die besoedeling hou ʼn groot gevaar in vir die ganse, bleshoenders, eende, otters en vis,” het hy gesê. Engelbrecht het Vrydag ʼn foto geneem van ʼn bleshoender wat se voete in vislyn verstrengel was. “Die lyn het in sy pote in gesny en die arme voël het lank só geleef. Ons het die vislyn verwyder, die wonde behandel en hom vrygelaat. Hy het nie geweet hoe om te swem nie omdat sy voete so lank so verstrengel was,” het hy gesê.

Engelbrecht en vrywilligers het besluit om self moue op te rol en die dam skoon te maak. Hulle het Maandag met die projek begin en beplan om tot Saterdag die dam onkruid- en vislynvry te maak.

“Ons werk saam die Rietvlei-natuurreservaat, Vriende van Rietvlei en vrywilligers. Inwoners is ook welkom om te help, ons beoog om dit ʼn gereelde instelling te maak,” het hy bygevoeg.

Mense wat belangstel om die groep se vordering te sien, kan hul Facebook-blad hier besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Brenda ·

mooi, so! dit is knap gedaan. Saam kan ons ‘n groot verskil maak.

Johann ·

Baie goed gedoen Neil en span! Ek hoop dit inspireer ander hengelaars, van alle agtergronde en fasette om te dink oor hoe hulle die visse en die natuur hanteer, en om self ons hengelwaters te help skoon hou. Om te se “iemand anders sal dit doen”, is nie die manier nie.

Well done ouens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.