Henning-moord: “Ek kon nee gesê het”

Chanelle Henning

Gerhardus du Plessis, die voormalige polisiebeampte wat Chanelle Henning doodgeskiet het, het gesê hy kan niemand buiten homself vir die moord blameer nie.

“Ek kon nee gesê het, maar ek het nie,” het Du Plessis gesê. Du Plessis sê hy blameer nie sy vriend, Willem Pieterse dat hy hom by die komplot betrek het nie.

“Ons neem ons eie besluite. Ek het my besluit gemaak en ek kan nie nou daarop teruggaan nie,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis en Pieterse, beide voormalige polisiebeamptes, is elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle in Desember 2011 skuldig gepleit het op Chanelle Henning se moord. Henning is op 8 November 2011 in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by ʼn kleuterskool afgelaai het. Hulle getuig tans in die saak teen André Gouws en Ambrose Monye wat hulle glo teen R10 000 elk gehuur het om die moord te pleeg.

Gouws, ʼn vriend van Henning se vervreemde man, Nico Henning, en Monye, ʼn voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, het onskuldig gepleit.

Du Plessis het vroeër aan die hof vertel hoe hy Henning doodgeskiet het. Pieterse, wat Du Plessis aan Monye voorgestel het, het die motorfiets tydens die aanval bestuur.

Du Plessis sê hy het bykans onttrek, nie weens ʼn morele dilemma nie, maar omdat hy kwaad was vir Pieterse. Hy het vermoed Pieterse het ʼn verhouding met sy vrou. Hy het glo ook “ongemaklik” gevoel om ʼn vrou te skiet, maar erken dit sou hom nie gekeer het om die sluipmoord te voltooi nie.

Du Plessis het uiteindelik besluit om met die plan voort te gaan nadat Monye glo gedreig het om sy vrou, kinders en honde dood te maak. Hy sê hy het Henning vir “dwelms en geld” vermoor en het nooit die bedrag wat hy vir die moord sou ontvang met Monye, Gouws, Pieterse, of ʼn “middelman”, genaamd Sly, bespreek nie.

“Hulle [Pieterse en Sly] het gesê ons het ʼn opdrag en hulle sal die geld uitsorteer,” het Du Plessis verduidelik.

Du Plessis het getuig dat Monye hom gevra het of hy bereid is om ʼn moord te pleeg net nadat hulle ontmoet het, en hom toe geld aangebied, maar hy het gesê hy wil eers daaroor gaan dink. Hy het nie weer direk met Monye onderhandel nie, buiteen een oggend toe Monye daarop aangedring het dat hulle “nou die taak moet gaan verrig”.

Du Plessis sê hy en Gouws het mekaar by ʼn pizza-restaurant ontmoet waar hulle verskeie metodes bespreek het om die moord te pleeg. Hy het Gouws se voorstel dat hulle Henning se sekuriteitskompleks moet betree verwerp. Gouws se tweede voorstel dat hulle ʼn woonstel oorkant haar huis moes huur en haar met ʼn “lang geweer” moes skiet, het hy as onprakties afgemaak. Hy het verduidelik te veel dinge kon verkeerd loop en Henning se kind sou moontlik in die woonstel wees.

“Voordat Gouws daar weg is, het hy ʼn man geskakel en gevra of hy die man en ʼn kind op ʼn visvangnaweek kon saamvat, maar die man het geantwoord, ‘die teef [bitch] het die baba die naweek’,” getuig Du Plessis. Hulle het op die ou einde besluit dat hulle Henning buite die kleuterskool sou doodskiet.

Du Plessis ontken dat hy by die polisie geskors is. Hy het gesê hy was op stresverlof en het steeds sy salaris ontvang toe hy Henning geskiet het. Hy het geweier om vrae oor sy 15-jaar vonnis op die aanklag van bedrog oor ʼn moorddossier te beantwoord, en gesê dit het nie betrekking op die huidige saak nie.

Volgens Du Plessis het hy ʼn pleitooreenkoms in daardie saak aangegaan en glo die 15 jaar word gelyklopend met sy 18 jaar tronkstraf vir Henning se moord uitgedien.

Daan Mostert, André Gouws se prokureur, het aan Du Plessis gestel sy kliënt het niks van die moord geweet nie en dat hy sal ontken dat hy enige moordscenario’s met Du Plessis bespreek het. “Dit is sy weergawe. Hy lieg,” het Du Plessis geantwoord.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.