Henning-moord: Getuie blaf vir beskuldigdes

Chanelle Henning

Willem Pieterse, voormalige polisiebeampte wat vroeër skuldig gepleit het op die moord van Chanelle Henning, het Woensdag in die hof teen die beskuldigdes André Gouws en Ambrose Monye getuig.

Op die vraag wat hy en Monye se regterhandman in gemeen het, het Pieterse in die Pretoriase hooggeregshof geantwoord, “Ons is almal skelms”. “Mens kan dit sien. Liggaamstaal, die manier hoe jy praat. Dit sê alles baie,” het Pieterse getuig.

Maroela Media het vroeër berig die saak staan af weens slaapprobleme wat Gouws ondervind het. Regter Johan Kruger het deur die loop van die oggend ‘n brief ontvang wat bevestig dat die beskuldigde in behoorlike toestande aangehou sal word. Die saak het net daarna voortgeduur.

Gouws en Monye word van die moord op Chanelle Henning (26) beskuldig, sameswering tot moord, sameswering om ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en die besit van ammunisie. Hulle het altwee onskuldig gepleit. Henning is op 8 November 2011 in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by ‘n kleuterskool afgelaai het.

Pieterse sê die regterhandman, wat hy net as “Sly” ken, het hom aan Monye voorgestel.

Pieterse en Gerhardus du Plessis, ook ‘n voormalige polisiebeampte, beweer dat Monye hulle gehuur het om Henning dood te skiet en hulle elk R10 000 aangebied. Beide is in Desember 2011 skuldig bevind aan moord, sameswering tot moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, en die besit van ongelisensieerde ammunisie. Beide is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Pieterse sê hy het Monye vir die eerste keer op 14 Oktober 2011 ontmoet. “Hierdie is ‘n dooie man wat rondloop,” het Monye glo gesê van ‘n man wat hom geld geskuld het, getuig Pieterse. Hy het aan die hof gesê dat hy, Monye en Sly die man by die Voortrekkermonument aangerand het. Pieterse sê hy het die mes onder die man se neus ingedruk. “Ek het vir hom gesê hy moet ruik hoe naby hy aan die dood is. En toe het ek hom gestamp,” het Pieterse gesê.

Pieterse het ook oor sy daaglikse dwelmgebruik gepraat. “Ek het Cat (die dwelm methcathinone) elke dag gebruik.” Hy het Cat vir langer as twee jaar gebruik en voor dit het hy kokaïen gebruik. Volgens Pieterse het hy nou al vir amper ‘n jaar lank nog nie weer Cat gebruik nie. “Ek mis dit glad nie. Aanvanklik het ek,” het hy gesê.

Teen die einde van die verrigtinge het Pieterse vir Monye en Gouws soos ‘n hond geblaf voordat hy na die selle teruggekeer het. Gouws het geskrik, maar dit afgelag. “Daar is groot Rottweilers in die tronk,” het hy gesê.

Die hofsaak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lydia Jankowitz ·

Is die motief vir die moord al vasgestel? Waar is haar man, woon hy die hofsaak by?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.