Henning-moord: “Monye het gesê ons moet dit doen”

Chanelle Henning

André Gouws, wat van die moord op Chanelle Henning beskuldig word, het die plek uitgewys waar Henning vermoor moet word, het die Pretoriase hooggeregshof vandag aangehoor.

“Ons het Gouws op sy blou BMW-veldmotorfiets na Garsfontein gevolg,” het Willem Pieterse getuig. Pieterse en Gerhardus du Plessis het in Desember 2011 op die moord skuldig gepleit. “Ons het na Garsfontein gery waar Chanelle geskiet is,” het Pieterse Dinsdag gesê.

Pieterse getuig in die moordverhoor van Ambrose Monye, voormalige Olimpiese atleet van Nigerië en Gouws. Pieterse sê Gouws het twee plekke met sy hand beduie. Hulle het ook by die skool, waar Henning gewerk het, gestop. Later het hy ‘n stukkie papier met Henning se besonderhede, insluitend haar motorregistrasienommer en motorkleur ontvang.

Pieterse is gevra of hy Henning vantevore ontmoet het. “Nee, in daardie stadium het ons nie eers geweet dit is ‘n vrou wat geskiet moet word nie,” het Pieterse getuig. Henning se ouers, Sharon en Ivan Saincic was in die hof. Haar ma het gehuil toe Pieterse gesê het hy het haar dogter nooit ontmoet nie.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Pieterse en Du Plessis beweer Monye het hulle gehuur om Henning te skiet en hulle elk R10 000 beloof. Hulle is in Desember 2011, nadat hulle gepleit het, skuldig bevind aan moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en besit van ongelisensieerde ammunisie. Hulle is elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Gouws en Monye het onskuldig gepleit op die moord, sameswering tot moord, sameswering om ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, besit van ‘n onwettige vuurwapen en onwettige besit van ammunisie.
Pieterse is gevra waarom hy Henning vermoor het. “Dit is ‘n opdrag wat ons van Monye af ontvang het,” het hy geantwoord. Hy getuig hy het Monye by ‘n Romans Pizza-restaurant in Sunnyside ontmoet en het R600 ontvang om ‘n vuurwapen te koop. Hy het egter die geld gebruik om dwelmmiddels te koop. Hy het later ‘n verchroomde, kortneus .38-vuurwapen by Preshan Singh gekry. Singh is in Julie tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar, omdat hy die vuurwapen vir die moord verskaf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.