Henning-moord: Nóg drie verdagtes in hof

Die vermoorde Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Drie verdagtes wat glo betrokke was by die moord op Chanelle Henning sal Donderdag in die Pretoria landdroshof verskyn.

ʼn Geskorste polisiebeampte, konst. Gerhardus du Plessis (34), het erken dat hy Henning (26) verlede week doodgeskiet het. Hy het Woensdag in die hof verskyn waar hy aangekla is van moord, sameswering tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Du Plessis, ʼn speurder van die Hercules-polisiekantoor, is Maandag geskors. Hy het glo ook twee moorddossiere laat verdwyn. Die hof het gister gehoor dat daar na bewering langer as ʼn maand aan Henning se moord beplan is. Henning is verlede week Dinsdag deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet kort nadat sy haar 5-jarige seuntjie Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het. Een van die verdagtes wat Donderdag in die hof sal verskyn is na bewering ʼn Olimpiese atleet van Nigerië wat glo betrokke is by dwelmbedrywighede in Pretoria. Volgens berigte is Du Plessis ʼn dwelmverslaafde. Du Plessis se saak is tot volgende week uitgestel vir verdere ondersoek. Die polisie wou intussen nie uitwei oor berigte dat ʼn totaal van ses verdagtes reeds in hegtenis geneem is in verband met die saak nie. ʼn Polisiewoordvoerder, kol Neville Malila, sê volgens die polisie is net vier verdagtes in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.