Henning-moord: Saak staan af

Chanelle Henning

Die saak van twee mans wat van die moord op Chanelle Henning beskuldig word, staan af in die Pretoriase hooggeregshof, is Woensdag bekendgemaak.

André Gouws, een van die beskuldigdes, kla dat hy, weens ʼn tekort aan slaap en kos, nie kan konsentreer nie. Daan Mostert, Gouws se prokureur, het gesê sy kliënt kan nie daarmee volhou om notas te maak nie, en dat hy tydens die verrigtinge aan die slaap val. “Hy is nie in staat om voor te berei nie,” het Mostert gesê.

Mostert het die hof versoek om ʼn bevel te gee dat sy kliënt in ʼn enkelsel kan bly.

Johan Kruger, waarnemende regter, het gesê die verdedigingspanne en aanklaers moet die probleem met die departement van korrektiewe dienste bespreek en dan aan hom terugrapporteer.

Die saak staan dus af en word van die rol verwyder totdat die probleem opgeklaar is.

Willem Pieterse, voormalige polisiebeampte, het Dinsdag aan die hof gesê dat Ambrose Monye die waarheid oor Henning se moord moet openbaar. Pieterse en Gerhardus du Plessis, ook ʼn voormalige polisiebeampte, het in Desember 2011 skuldig gepleit op die moord.

Monye, ʼn voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, en Gouws word van moord, sameswering tot moord, sameswering om ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, besit van ʼn onwettige vuurwapen en onwettige besit van ammunisie aangekla. Hulle het onskuldig gepleit.

Pieterse en Du Plessis, wat beide tans 18 jaar tronkstraf vir die moord uitdien, beweer dat Monye hulle gehuur het om Henning te skiet en het hulle elk R10 000 beloof.

Matthew Klein, Monye se prokureur, het dit aan Pieterse gestel dat sy kliënt hom slegs vir klein sekuriteitswerkies gehuur het. “Ja, ek het vir hom gewerk. Dit was om dwelmmiddels te verkoop en Chanelle te vermoor. Dit is nie klein werkies nie,” het hy geantwoord. Pieterse het aan die hof gesê dat Monye en Gouws hom en Du Plessis op verskeie geleenthede ontmoet het om Henning se moord te reël. Tydens een van dié geleenthede het Gouws hulle gewaarsku dat Henning se kind nie iets moet oorkom nie.

Henning (26) is op 8 November 2011 in haar motor in Faerie Glen, oos van Pretoria, doodgeskiet net nadat sy haar kind by die kleuterskool afgelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.