Henning-moord: Verdagte kry opgeskorte vonnis

Chanelle Henning

Die man wat daarvan beskuldig is dat hy die wapen verskaf het vir die moord op Chanelle Henning het Donderdag ʼn opgeskorte vonnis gekry in die Pretoria-landdroshof.

Preshan Singh het ingevolge ʼn pleitooreenkoms vyf jaar tronkstraf gekry, wat vin geheel vir vyf jaar opgeskort is. Singh se onwettige vuurwapen is glo gebruik in die moord op Henning. Sy is op 8 November verlede jaar voor haar seuntjie se kleuterskool in Faerie Glen, Pretoria doodgeskiet. Die hof het gehoor dat Singh se vriend, Willem Pieterse, die vuurwapen by hom geleen het. Singh beweer hy het die vuurwapen vir hom gegee sonder om te vra waarvoor hy dit wil gebruik. Singh sê hy het eers nadat die nuus oor Henning se sluipmoord bekendgeraak het, besef dat die vuurwapen moontlik die moordwapen was. Singh is ook vir die volgende drie jaar onder korrektiewe toesig geplaas en mag slegs die huis verlaat wanneer hy werk of kerk toe gaan of gemeenskapsdiens verrig. Singh moet 16 uur per maand gemeenskapsdiens verrig by die departement van korrektiewe dienste. Hy moet ook op eie koste ʼn rehabilitasieprogram bywoon. Singh mag ook nie vir volgende drie jaar alkohol of dagga gebruik nie en sal gereeld hiervoor getoets word. Singh is voorheen in hegtenis geneem vir die besit van dagga maar is vrygelaat nadat hy ʼn boete betaal het. Twee mense, Pieterse en Gerhardus du Plessis, dien reeds 28 jaar tronkstraf uit in verband met die moord op Henning nadat hulle ook ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.