Gerhardus du Plessis, wat vroeër skuldig bevind is op die moord van Chanelle Henning in November 2011, het Vrydag getuig dat verskeie vergaderings gehou is om Henning se moord te beplan.
Du Plessis, ‘n voormalige polisiebeampte en getuie vir die staat, word tans deur staatsadvokaat Gerrie Nel ondervra. Nel het gesê dat hy, Willem Pieterse, André Gouws en Ambrose Monye ‘n hele paar keer vergader het om die sluipmoord te beplan.
Pieterse is ook ‘n staatsgetuie, terwyl Monye en Gouws tans verhoor word op aanklagte van die moord op Henning, sameswering tot moord, sameswering om ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie te bekom, en die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Hulle het onskuldig gepleit.
Pieterse het vroeër in die hof gesê dat Henning se eksman, Nico, haar laat agtervolg het.
Pieterse en Du Plessis beweer dat Monye hulle gehuur het om Henning vir R10 000 dood te skiet. Nadat hulle in Desember 2011 skuldig gepleit het, is hulle tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.
Twee mans op ‘n motorfiets het Henning (26) op 8 November 2011 doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by ‘n kleuterskool in Faerie Glen, oos van Pretoria, afgelaai het.
Die saak duur voort.