Henning-moordenaar kry nóg tronkstraf vir korrupsie

Gerhardus du Plessis verskyn in die hof weens die moord op Chanelle Henning. Die foto is deur @ewnreporter op Twitter gelaai.

Die voormalige polisieman wat reeds tronkstraf uitdien na die moord op Chanelle Henning, is Dinsdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op ʼn aanklag van korrupsie.

Landdros Dawie Jacobs het gelas dat Du Plessis dié vonnis samelopend met die 18 jaar tronkstraf weens Henning se moord uitdien. Du Plessis en Willem Pieterse is in Desember gevonnis nadat hulle ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Du Plessis, ʼn konstabel van die Hercules-polisiestasie, is in Mei verlede jaar op siekverlof geplaas weens post-traumatiese stresversteuring nadat hy op ʼn misdaadtoneel was waar ʼn kind vermoor is. In Augustus verlede jaar is hy deur ʼn ene Frederick Olivier genader wat hom R10 000 aangebied het om ʼn moorddossier vir hom te steel. Olivier is glo vroeër in hegtenis geneem weens die moord op Trymore Ziriri in September 2010. Du Plessis het die moorddossier gesteel en aan Olivier oorhandig. Die staat het gevra vir 15 jaar tronkstraf weens versagtende omstandighede, insluitend die feit dat Du Plessis drie jong kinders het en sy vrou werkloos is.

Du Plessis is reeds voor hy betrek is by die moord op Henning, in hegtenis geneem op ʼn aanklag van korrupsie. Hy was uit op borgtog van R2 000 toe hy Henning op Dinsdag 8 November doodgeskiet het nadat sy haar seuntjie by ‘n kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.