Henning se ouers nader hof oor toesig van kleinkind

Die vermoorde Chanelle Henning saam met haar seuntjie Benjamin. Foto: Facebook

Die ouers van die vermoorde Chanelle Henning het ʼn aansoek voor die Noord-Gautengse hooggeregshof gebring om toesig van hul kleinseun te kry.

EWN berig dat Henning se 4-jarige seuntjie, Benjamin, intussen in ʼn plek van veiligheid geplaas is. ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Duane Lightfoot, sê die polisie het nog geen verdagtes in die saak geïdentifiseer nie en die ondersoek gaan voort. Henning se vervreemde man, Nico, is Woensdag deur die polisie ondervra. Hy is egter in die stadium nie ʼn verdagte in die saak nie. Henning is Dinsdagoggend kort nadat sy Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet. Die motorfiets het verby haar motor gery toe die passasier op die motorfiets glo talle skote afgevuur het. Henning, ʼn onderwyser by Woodhill-kollege, is glo in die long getref. Haar motor het ʼn paar honderd meter verder tot stilstand gekom nadat dit ʼn klip op die sypaadjie getref het. Volgens berigte het Henning vermoed sy word agtervolg. Henning is deur omstanders uit die motor getrek maar is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.