Herman Mashaba se boek word onttrek

Herman Mashaba, oudburgemeester van Johannesburg en nou ook leier van ActionSA. (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse uitgewer Jonathan Ball het Maandag aangekondig dat hy die boek, The Outsider, ʼn biografie oor Herman Mashaba se lewe en politieke ervarings, uit die handel gaan onttrek.

Dit volg ná Mashaba, leier van ActionSA, se openbaring dat hy R12,5 miljoen in ʼn ooreenkoms met Prince Mashele, skrywer van The Outsider, bewillig het om navorsing vir die boek te doen.

Jean-Marie Korff, publisiteitsbestuurder van die uitgewer, sê die uitgewer was onbewus van die reëling oor befondsing tussen Mashele en Mashaba toe daar in 2022 ʼn publikasieooreenkoms met die skrywer onderteken is.

“Dit is ʼn wesenlike verswyging van die skrywer se kant af. Mashele het inderwaarheid ʼn vertrouensbreuk gepleeg.

“Ons neem ook kennis van ʼn ooreenkoms wat in 2019 tussen Mashaba en Mashele aangegaan is. Dit is wel nie die kontrak wat Jonathan Ball in 2022 met hom onderteken het nie.”

Te midde die omstredenheid het ActionSA hom van Mashaba se boek en die publikasieproses gedistansieer.

“Die boek is nie ʼn ActionSA-projek nie. Dit is twee jaar voor die politieke party tot stand gekom het, begin, terwyl Mashaba nog die burgemeester van Johannesburg was.”

Herman Mashaba se biografie ‘The Outsider’ wat onttrek is.

Mashaba het glo ook nie geweet hoe die voorblad van die boek gaan lyk of dat daar ʼn subopskrif, naamlik “An unauthorised biography of Herman Mashaba”, sou wees nie.

“Dit is tussen Mashele en die uitgewers ooreengekom. Ons kan nie kommentaar lewer oor Mashele se verhouding met die uitgewer, of wat hy gedoen het of nie aan hulle bekendgemaak het nie, aangesien nóg die party nóg Mashaba by hierdie gesprekke betrokke was.”

Mashele het in 2018 ʼn plan om die boek te finansier aan Mashaba voorgelê. Toe dit blyk dat die insameling van die geld uitdagend sou wees, het Mashaba self die aanvanklike finansiering verskaf.

ʼn Kontrak wat redaksionele beheer van die boek se inhoud aan Mashele gee, is in Maart 2019 onderteken. Mashaba moes onder meer toegang vir onderhoude verskaf en hy het van tyd tot tyd kommentaar oor feitelike akkuraatheid in weergawes van die manuskrip gelewer.

Mashaba het tydens ʼn onlangse bekendstelling van die boek openlik oor sy rol in die hersiening van die manuskrip en akkuraatheid gepraat wat grootliks tot die begin van ʼn groot omstredenheid oor die boek gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lurock ·

En so val die groot manne. Net weereens ‘n bewys, as daar geld by betrokke is, dan volg moeilikheid in die geld se voetspore,

Nettie ·

Niks wat in die donker gedoen is, gaan nie een of ander tyd aan die lig gebring word nie….

Kobus ·

R12 miljoen vir navorsing! Dit terwyl hy skreeu hoe armes gehelp moet word maar skenk hy ooit iets? Was hiedie boek ten doel om sy beeld te poets? Belaglik verby

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.