Hernieude onsekerheid ná SA Lugmag kontrak met Denel opskort

Rooivalk

Meer as 520 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG kan hul poste kwyt wees as die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) nie sy huidige kontrak met dié maatskappy hernieu nie.

“Daar heers hernieude onsekerheid oor die poste van 523 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG, aangesien duidelikheid nog steeds nie verkry is oor of SALM van dié tegnici gaan benut nie, siende dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met die maatskappy gekanselleer het,” het Jack Loggerenberg, woordvoerder van Solidariteit, gesê.

Die vakbond eis nou dat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging, moet ingryp en toesien dat sekerheid oor die werknemers se toekoms by die lugmag verkry word.

Loggenberg sê die vakbond het nog geen terugvoer oor die 523 werknemers se lot van Denel Aviation/AMG of die lugmag gekry nie. “Denel Aviation/AMG het verlede week met genl.maj. Zakes Msimang, hoof van die lugmag, vergader waarna ons meegedeel is dat die lugmag definitief nie sy kontrak met Denel Aviation/AMG gaan hernieu nie, aangesien die lugmag se finansiële stand dit glo nie regverdig nie. Daar word vermoed dat opsies oorweeg word om van die tegnici steeds in die lugmag te benut, maar daar word nie met Solidariteit gekommunikeer nie hoewel die vakbond meer as 300 van die werknemers verteenwoordig.”

Loggenberg sê Solidariteit het nog geen formele artikel 189-kennisgewing ontvang om aan te dui dat van die tegnici of steunpersoneel, wat landwyd by die lugmag se onderskeie eskaders werksaam is, afgelê gaan word nie. “Indien van die tegnici deur die lugmag benut gaan word, moet daar ook ’n artikel 197-kennisgewing uitgereik word vir die oordrag van dienskontrakte. Die twee regsprosesse kan uiteraard nie gelyktydig loop nie en sal ’n omvangryke rimpeleffek hê as daar in ag geneem word dat die kontrak reeds einde Maart 2013 ten einde kom. Ons is bekommerd hieroor, aangesien die lugmag moontlik nie die tegnici wat hy gaan oorneem op dieselfde vlak as hulle huidige salarisvlak sal kan vergoed nie. Dit kan tot gevolg hê dat hulle weens hulle skaars en kritieke vaardighede deur ander maatskappye opgeraap word en hulle kennis dan vir die lugmag verlore gaan wees. So ’n proses kan ook tydsaam wees en moet dus teen die einde van die maand reeds begin. Ons eis dat die minister van verdediging ingryp en ’n vergadering met die lugmag, Denel Aviation/AMG en vakbonde belê ten einde ’n besluit te neem en sodoende sekerheid te verskaf aan die werknemers wat nou voor die Kersfeestyd nie weet wat met hulle gaan gebeur nie.”

Volgens Loggenberg is daar ook ’n potensiële dispuut tussen Denel Aviation/AMG en die lugmag oor wie verantwoordelik sal wees vir die personeel se skeidingspakkette van miljoene rande indien afleggings onvoorkombaar is. “Ingevolge die kontrak is die SA lugmag verantwoordelik vir die skeidingspakkette. Of die lugmag wel verantwoordelik sal wees vir afleggings en dus die skeidingspakkette nadat die kontrak verstryk het, word bevraagteken. Denel Aviation/AMG meen dat die lugmag steeds verantwoordelik sal wees om die skeidingspakkette te betaal. Ons is bekommerd dat indien Denel Aviation/AMG die skeidingspakkette moet betaal, verdere afleggings by Denel kan volg. Denel is pas deur ’n herstrukturering.”

Die departement van verdediging het op 20 Junie 2011 kennis gegee dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG gaan kanselleer. Onderhandelinge het plaasgevind om die kontrak te wysig en moontlik te hersien, maar verlede maand het die lugmag onverwags in ’n brief te kenne gegee dat hy sy besluit hersien het en nie met die nuwe kontrak met Denel Aviation/AMG ná 31 Maart 2013 sal voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.