Herrie los na kind in motor toegesluit is: mans nooit aangekla nie

Annali Snoer, paramedikus van Netcare911 red die kind uit die toe motor. Foto: news24.com

Die twee mans wat glo ʼn kleuter oor die naweek by ʼn winkelsentrum in Welkom in ʼn bloedige motor toegesluit het, is vrygelaat omdat die polisie hulle nie aangekla het nie, het ʼn woordvoerder Maandag gesê.

ʼn Dossier is egter intussen oopgemaak en die polisie beplan om die twee weer in hegtenis te neem, het kaptein Stephen Thakeng gesê. Hy bevestig ʼn berig in Beeld dat karwagte die 4-jaaroue dogtertjie in ʼn toe motor in die Goldfields-winkelsentrum se parkeerarea raakgesien het. Die temperatuur was reeds in die hoë dertigs. ʼn Paramedikus het glo die motor se ruit gebreek om water aan die kind te gee en haar deur te laat. Die sentrum se sekuriteit het glo drie aankondigings in die winkelsentrum en aangrensende Casino gedoen om die voertuigeienaar in kennis te stel, maar niemand het reageer nie. Twee mans het ongeveer twee ure later rustig aangestap gekom, en gesê hulle het glo gaan skoene koop. Die twee mans is vir kinderverwaarlosing in hegtenis geneem.

Die kind se 23-jarige moeder is na die toneel ontbied. Volgens haar het die mans die kind in die motor sonder haar toestemming geneem. Die kind is in die ambulans behandel en is toe in die moeder se toesig gelaat. Volgens Thakeng sal hulle ʼn interne ondersoek instel om uit te vind waarom die mans nooit Saterdag formeel aangekla is nie en waarom die mans toe Sondag vrygelaat is. Toe dit aan die lig kom dat ʼn dossier nooit aangelê is nie, is dit dadelik reggestel en het die polisie planne beraam om drie mense weer in hegtenis te neem. Die twee mans wat die kind in die motor gelaat het, het glo beweer dat die voertuigeienaar weggehardloop het.

Ouers moenie hul kinders in voertuie toesluit nie, het Thakeng gesê. “Hulle moet hulle eerder by die huis los of die inkopies laat vaar indien die kinders nie wil voortgaan nie.” Derrick Banks, woordvoerder vir ER24 het aangedui dat ʼn voertuig wat in die son staan, soos ʼn bakoond kan raak. “Wanneer die buitetemperatuur ʼn gemiddeld van 33° celsius bereik, kan die temperatuur binne-in die voertuig binne 20 minute maklik tot meer as 50° celsius styg. Selfs wanneer ʼn ruit oopgedraai is, kan die temperatuur binne-in die voertuig binne 40 minute meer as 60° celsius bereik.

In sulke toestande sal ʼn kind of ʼn baba erg ontwater en elektroliete verloor. “Indien die toestand nie dadelik herstel word nie, kan die kind sonsteek kry en sal dus nie kan sweet nie. Die liggaam se interne temperatuur sal dus gevaarlik hoog styg.” Dit kan tot stuipe, breinskade, lewer- en nierskade en selfs tot die dood lei.

Volgens Banks sien paramedici daagliks kinders in toe karre. “Mense meld dit nie aan nie. Hulle sal eerder verby die voertuig loop en sê ‘slegte ouer’, in plaas van om die ruit te breek,” het hy gesê. “Onder geen omstandighede moet jy ʼn kind (of troeteldier) in ʼn voertuig toesluit nie, selfs al laat jy ʼn venster oop en jy weet jy gaan net vir ʼn paar minute weg wees.” Hy het motoriste aangeraai om seker te maak dat kinders nie naby die motor is nie, om seker te maak dat jy hulle nie per ongeluk in die voertuig toesluit nie. Kinders wat in die hitte uit ʼn toe voertuig gered word moet ʼn mediese ondersoek ondergaan om te bepaal of hulle enige tekens of simptome van sonsteek of hitte-uitputting of stuipe toon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.