Herroep rugby-rassekwotas of boikot-aksie teen Vodacom-beker begin, sê AfriForum

Argieffoto.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag ʼn skrywe aan die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU) en die 14 provinsiale rugby-unies gestuur, waarin gevra word dat SARU se besluit om rassekwotas in die Vodacombeker te implementeer, herroep word. Sou dit nie gebeur nie, sal AfriForum ʼn boikot-aksie teen volgende jaar se Vodacombeker-reeks van stapel stuur.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het SARU met dié nuwe kwotabeleid ter ondersteuning van die ANC se rasse-ideologie, sy rug gekeer op jong rugbyspelers en gewone rugbyondersteuners wat betaal om Vodacombeker-wedstryde by te woon.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum ten gunste van rugbyontwikkeling is en dit heelhartig sal ondersteun indien dit aan almal die geleentheid bied om aan rugby deel te neem. “ʼn Rassekwota-beleid dra egter nie daartoe by om nuwe spelers te onwikkel nie, aangesien instellings en provinsies bloot swart spelers, wat reeds rugby speel, invoer om aan die kwotavereistes te voldoen. Rugby-unies behoort eerder op ontwikkelingsprogramme te fokus as om met ʼn kwotabeleid op ʼn rassebasis teen sekere spelers te diskrimineer,” het Kriel gesê.

Kriel voer aan dat ʼn rassekwotabeleid swart rugbyspelers uiteindelik net so erg benadeel as hulle wit eweknieë omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is. SARU behoort eerder sy versuim om op skoolvlak jong swart talent te ontwikkel, reg te stel as om op hierdie kunsmatige wyse die getalle te probeer regdwing.

Volgens Kriel is dit belangrik dat betalende rugbyondersteuners nou standpunt moet inneem. “Stilswyende aanvaarding van SARU se rassekwotas in die Vodacombeker sal meebring dat SARU dieselfde soort rassemanipulasie in die Superrugby- en Curriebekerreekse sal toepas,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het ʼn beroep op SARU gedoen om die ANC se rassepolitiek opsy te skuif en eerder in belang van rugby, alle spelers en ondersteuners op te tree.

Lees ook:
‘Raskwotas ʼn tree agteruit,’ sê VF+
“Meer swart spelers in rugbyspanne benodig”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
amy

Ons het sommer klaar besluit om nie meer Springbokrugby te kyk nie. Daai mannetjies se ogies sal gou gou-gou oopgaan as die geldkraantjie bietjie opdroog, en hulle nie meer hulle spogkarretjies kan ry nie.

Johan

In die vroeër 70 – tagtiger jare was dit maar baie goed en gemaklik om sport sanksies teen Suid Afrika toe te pas agv van Apartheid en alles wat daarmee saamgegaan het. Dit het ingesluit dat ‘n swart speler nie in ‘n wit span mag speel nie. Dis was sekerlik verkeerd. Nou kom SARU en hulle wil met presies dieselfde as wat daai jare gebeur het, swart spelers bevoordeel teenoor wit spelers en hulle kyk eenvoudig maar net weer teen die rassekaart vas! Kyk asb daarby verby SARU en laat die spelers met meriete die spanne haal. Julle is met… Lees meer »

Conrad

Ek is so stadigaan ook om op die punt te kom om nie meer rugby te kyk nie oor die tipe van ding. My pa kyk nie meer curriebeker rugby nie, want die Bokke toer en dan speel die ‘tweede keuse’ ouens die reeks en bring die span tot ‘n kwarteind of semifinaal en dan word die bokke teruggesit in die span. Die bokke kan mos maar dan bietjie rus en laat die wat die reeks gespeel het, klaarmaak. Nou die tipe van kwota-ding. Meskien is ek ook al daar waar ek rugby gaan boikot soos wat ek krieket alreeds… Lees meer »

Nico

Ek het ook al lankal opgehou rugby kyk vandat dit nie meer op TV uitgesaai word nie, en ek weier om ten duurste vir DSTV te betaal.

GB

Ek ondersteun die boikot 100%! Politiekery vernietig die trots wat daar by anderskleurige atlete en selers is om op verdienste beoordeel te word en nie hul velkleur! Dit is wat my betref VERRAAD teenoor “op meriete en verdienste” gekose spanlede. Net nog ‘n instansie wat dieselfde pad gaan loop as elke enkele staatsdepartement waar politiekery vernietigend ingewerk het of effektiwiteite!